Jacaranda Water Projek

09-Water 4

09-Water bosveld Oord 1

09-Water bosveld Oord 2
Radio Jacaranda se “Water Drop” projek is die afgelope week na Thabazimbi uitgebrei toe 100 000 liter water met drie langbak vragmotors en sleepwaens Dinsdag na Thabazimbi deurgestuur is. Die vragmotors het eers teen die vroeë oggendure die dorp ingery en teen seweuur kon die aflaaiwerk begin. Die Rhinos Rugbyspan van Northam Platinum Myn het sommer vroeg hul kragte ingespan en gehelp om al die water van die vragmotors af te kry. Verskeie plekke is geïdentifiseer waar daar ’n werklike nood aan veral drinkwater bestaan. Een van die vragmotors het die pad deur Regorogile aangepak en van huis tot huis vir die mense water gegee. Projek Bethlehem hê darem ook so ’n paar bottels water gekry, so ook die ouetehuis in Thabazimbi, voordat mense eenvoudig met bakkies en karre die terrein van SJ Drilling, wat die projek in samewerking met Radio Jakaranda hier plaaslik hanteer het, toe geparkeer en, soos besetenes hul voertuie met bottels water tot teen die dak volgelaai het. Mens kan maar net die hoop uitspreek dat die water wel by die mense waar die nood die grootste is uitgekom het en dat dit nie in die sakke van swendelaars beland het nie. Dit wil voorkom asof die Thabazimbi Munisipaliteit ook ’n groot nood in drinkwater het aangesien een van die verkeersdepartement se motorvoertuie vroeg op die toneel was. Teen die tyd dat Kwêvoël daar opgedaag het, was die spesifieke voertuig tot teen die dak met waterbottels volgepak.