Legende in Thabazimbi Rugby oorlede

Tool Botha wat Saterdag 16 Januarie oorlede is.
Tool Botha wat Saterdag 16 Januarie oorlede is.

THABAZIMBI – ‘’n Legende in Thabazimbi Rugbyklub, Tool Botha (77), is die aand van 16 Januarie 2016 in Kloof Mediclinic (Pretoria) oorlede na ‘n lang siekbed as gevolg van komplikasies na ‘n operasie.
Tool is op 24 Oktober 1939 gebore en het op Brits groot geword.
Nadat hy std 10 op Middelburg Tegniese Skool voltooi het, het hy op 18 jarige ouderdom as vakleerling by Yskor Thabazimbi begin werk. Hy het gevorder van Ketelmaker na Voorman na Beplanner en afgetree in 1994 as Hoofbeplanner van die myn op Thabazimbi.
Dit is hier waar sy nou bande met die Thabazimbi Rugbyklub gesmee is toe hy vir die eerste keer vir die dorpspan op die veld uitgehardloop het. Daardie jare was daar nie so baie van die jong manne beskikbaar gewees nie en met tye is van die skool se beste spelers ook in die dorpspan ingetrek. Sy gesig pryk ook op talle spanfoto’s van Thabazimbi se dorpsrugbyspan in die rugbyklubhuis op Thabazimbi.
Deur die jare in die loop van die jare, selfs nadat sy rugbyjare verby is, was hy aktief betrokke by die Thabazimbi Rugbyklub en ook betrokke met reëling vir die jaarlikse rugbywedstryde tussen Thabazimbi en Mogol Rugbyklub tydens die Ben Alberts Sportdae.
Hy is in 1961 getroud met Tienie van Emmenis en uit die huwelik is daar drie seuns, Cobus, Fanie en Arno gebore, almal ywerige sportmanne in hul jong dae.
Tool en Tienie is in 1993 geskei en hy is in 1996 met Sarie Venter getroud. Hy en Sarie het tot met sy afsterwe op die Spitskop kleinhoewes gebly. Die familie, namens Tool se seun Cobus, bedank dan ook vir Sarie en sal vir ewig dankbaar wees vir die goeie lewensmaat wat sy vir Tool was en, veral vir haar liefdevolle bystand en versorging van hom tydens sy siekbed tot die einde toe. Dit was glad nie vir haar maklik nie.
Tool laat sy vrou Sarie, die drie seuns, Sarie se drie dogters, wat vir hom soos sy eie kinders was, ses kleinkinders en drie agterkleinkinders asook twee broers en ‘’n suster na.
Die begrafnis is Saterdag 23 Jan 2016 uit die NG Kerk Thabazimbi.