Kommentaar

comment
Met die Suidooster wat dreig om jou skoon uit die pad te dryf en sonder TV en koerante om die daaglikse nuus te volg, voel dit heel verfrissend om die eerste kommentaar van die jaar te skryf.
Vir ’n slag het die regerende party se sirkus en kaskenades by my verbybeweeg. My kop kon weer skoon kom en myself oriënteer op die huidige en toekomstige rol van Kwêvoël as plaaslike koerant vir Thabazimbi en omgewing en wat dit vir die gemeenskap inhou.
Eerstens moet dit plaaslike nuus oordra. Alhoewel hulle in Engels sê: “A picture is worth a thousand words”, is ’n koerantfoto nie ‘n video-opname wat, soos op TV, die storie kan beeldsend nie. Die koerantfoto moet jou prikkel om die storie agter die foto te lees. ‘n Storie van ‘n spreker op ‘n podium is volgens my nie die opwindendste foto vir ‘n koerant nie. Die uitdrukking op die gesigte van een of meer van die luisteraars sê baie meer.
Ongelukkig beskik niemand oor die vermoë om van alles te weet wat in die gemeenskap gebeur, gebeur het of nog gaan gebeur nie. So ‘n persoon bestaan ook nie op Kwêvoël se redaksie nie. Dus sê ek met groot waardering dankie aan al ons lesers wat ons inlig oor gebeure in die dorp en omgewing en nuusgebeure soos huwelike en gradeplegtighede deurstuur. Moet asseblief nie aanvaar dat iemand ons sekerlik sou inlig as jy bewus is van iets wat in die gemeenskap gebeur het, hetsy ‘n persoonlike prestasie of prestasie deur iemand wat jy ken, die afsterwe van ‘n persoon (wat ons beslis nie vir sensasie gebruik nie, maar wat ons plaas ter inligting vir die mense wat die persoon geken het), of enigiets wat jy voel nuuswaardig mag wees. Die naam en telefoonnommer van ‘n kontakpersoon wat meer agtergrond oor die gebeure kan verskaf maak dit net vir ons baie makliker om gouer die materiaal bymekaar te kry vir ‘n nuusberig.
Kwêvoël is ‘n sosiale koerant en om sensasionele berigte te plaas is nie die hoofdoel van die plaaslike koerant nie. Indien iets nuuswaardig is en, miskien ‘n tikkie van sensasie bevat soos byvoorbeeld ‘n plaasaanval of iemand wat sterf in ‘n motorongeluk, sal dit geplaas word aangesien die gemeenskap deur die sosiale media vinniger ingelig word as wat enige publikasie dit kan doen. Kwêvoël beskik nie oor die arbeidskrag om heeltyd die sosiale media dop te hou vir iets wat dalk mag gebeur nie. Indien u op ‘n toneel soos die vragmotors wat byna op ‘n jaarlikse basis op die treinspoor by die T-aansluiting met die Lephalale-pad afkom, kontak ons gerus. Ons weet nie noodwendig daarvan nie. Die feit dat daar ‘n robot is, gaan beslis nie ‘n weghol vragmotor, waarvan die remme ingegee het, keer nie.
Om hierdie rede word u as leser versoek om ons oë en ore te wees om nuus so vinnig as moontlik aan ons te meld voordat daar nog ‘n hele paar stertjies op sosiale netwerke bygevoeg word. Skakel die kantoor by 014 777 1621 of e-pos aan kwevoel@kwevoel.co.za of plaas dit op kwêvoël se Facebook blad.
Indien jy dalk iets nuuswaardig waarneem en ‘n foto met jou selfoon neem, stuur dit gerus deur na Kwêvoël. Teen die tyd wat ons iemand op die toneel het, mag dit dalk nie meer bestaan nie.
Ongelukkig kan ons hierdie rol in die samelewing slegs vervul met die ondersteuning van ons adverteerders. Besighede se advertensies verskaf die nodige inkomste om die nuus en gebeurtenisse in die gemeenskap aan die inwoners oor te dra. Baie min mense kan dit bekostig om heeltyd voor die rekenaar te sit of ‘n selfoon doop te hou. Al kan jy dit doen is die feite nie noodwendig betroubaar nie, en as jy dit by die werk doen mors jy jou werkgewer se geld en misbruik jy miskien ook sy internet-voordele sonder sy medewete. Dit kan dalk bydra dat jy jou werk verloor!
Ondersteun dus asseblief ons adverteerders sodat ons u as leser op hoogte kan hou van verwikkelings wat op plaaslike vlak, veral betreffende die plaaslike regering, die Thabazimbi Munisipaliteit.
Suid-Afrika se nasionale uitsaaier, die SABC, word oorlaai deur ANC propaganda, sodanig dat baie mense hulle nie meer daaraan steur om nuus te kyk nie. Tog is daar baie dinge wat buite Thabazimbi gebeur wat sake soos mynbou, landbou en ander sosiale aspekte aanspreek wat jy nie noodwendig op sosiale media gaan kry sonder om daarvoor te soek nie. Met hoeveel mense gaan jy dit deel? Hoogstens die aantal op jou Facebook lys van vriende.
Gereken op aannames wat deur die groter media soos Media24 en Caxton gebruik word, word elke koerant wat verkoop word, veral die plaaslike koerant, deur tussen vyf tot vyftien mense hanteer. Duidelik word alles nie noodwendig gelees nie, maar soveel mense hanteer een koerant. Dit beteken dat Kwêvoël weekliks deur 12 000 tot ‘n moontlike 38 000 mense hanteer en gelees word, insluitend jou gedrukte advertensie in die koerant.
Dit is moeilik vir besighede om te bepaal wat die werklike reaksie op hul advertensie in enige media is. ‘n Eenvoudige manier is net om op Kwêvoël se Face book bladsy in te gaan en te sien watter stories die meeste lesers trek. Sosiale nuus byvoorbeeld vroue-verenigings, skole nuus, ens. trek gemiddeld 400 tot 800 lesers terwyl nuus oor die Thabazimbi Munisipaliteit en berigte aangaande regeringsbesluite, wat veral die man op straat raak, tot 5 000 lesers trek. Hieruit is dit duidelik dat Kwêvoël, nie alleen met die gedrukte koerant, ‘n groot rol speel om die inwoners op hoogte van sake te hou. Jy hoef my nie te glo nie, kan kyk self.
Kwêvoël kan u ongelukkig nie van dag tot dag op hoogte van sake hou soos wanneer daar aan die waternetwerk gewerk word, onderbrekings in elektrisiteit-toevoer en dergelike sake. Daarvoor kan ons Raadslid Franco Loots en Joshua Motsomane van die TLM bedank vir die moeite wat hulle doen om die inwoners op die sosiale netwerke ingelig te hou. Waardeer dit wat hierdie mense doen. Daar is baie munisipaliteite waar niemand die moeite doen om die gemeenskap oor hierdie sake in te lig nie.
‘n Koerant wat jy koop gaan beslis nie in die asblik beland of as bedekking van ‘n voël- of hondehok gebruik word nog voordat jy dit gelees het nie.