Verwoestende storm tref boeregemeenskap naby Thabazimbi

‘n Wartlemoen wat in stukke deur die hael geslaan is, is ‘n stille getuie van die verwoestende storm wat die gebied Vrydagnag getref het.
‘n Wartlemoen wat in stukke deur die hael geslaan is, is ‘n stille getuie van die verwoestende storm wat die gebied Vrydagnag getref het.

THABAZIMBI – ‘n Verwoestende wind gepaardgaande met swaar reën en hael het ‘n klompie plase tussen Makoppa en Thabazimbi Vrydagaand getref.
Op die plaas Tarrentaalkraal van mnr Nico Loubser, is sy hele rissie land deur die hael platgeslaan en die plantjies wat nie platgeslaan is nie, het die wind geknak. Die land van sowat 8 hektaar is weggevee. Al wat hom nou nog te doen staan is om maar weer te plant voordat die rissies se groeityd verby is.
Die sowat 18kg rissiesaad wat nodig is om die land te plant, word vanaf Rusland teen ‘n koste van sowat R52 000 per 18kg sak ingevoer.
Buiten die skade aan die rissies, is sy voorman se huis se dak ook afgewaai en ‘n hele paar bome op sy erf uit die grond gewaai of groot takke net eenvoudig afgebreek. Nico vertel dat toe die storm teen ongeveer 23:00 die aan begin opsteek was dit gou duidelik dat groot moeilikheid oppad was. Op ‘n stadium het die wind so sterk gewaai dat dit sy skuifdeur by sy eetkamer met raam en al, saam met die raw-bolts wat dit vashou, uit die muur gewaai het. Hy en sy vrou het hulle lam gesukkel om die eetkamertafel teen die deur te stoot om die meeste water te stop wat ingereën het.
Die wind was so sterk dat dit die skuurdeur asook ‘n staal-skuifhek van hul spore afgewaai het.
Tydens die storm het die krag ook afgegaan wat sake bemoeilik het om orde in die duisternis te skep. Met tye was daar ook nie selfoonverbinding nie as gevolg van selfone wat nie herlaai kon word nie.
‘n Spilpunt op die plaas is ook omgewaai. Die raamwerk van ‘n tonnel waarvan die seil reeds in ‘n vroeër storm afgewaai is, het ook onder die aanslag van die wind ineen gestort.
By Henk Schutte van die plaas Staankraal is drie spilpunte omgewaai. Heelwat skade is in die omgewing aan veral die rissie lande, tabak, mielies, wartlemoen en spanspek oeste aangerig.
‘n Totaal van sewe spilpunte is omgewaai en die totale skade beloop duisende rande indien nie baie meer nie. Dit is moeilik om ‘n skadebepaling te maak aangesien die versekeraars eers die skade moet kom saamstel voordat ‘n finale waarde verkry kan word.
Op Nico se plaas is sy reënmeter skoon weggewaai maar daar word gereken dat daar ten minste 75mm reën geval het. Plek-plek op die grootpad kon mens die tekens sien dat die pad soos ‘n rivier moes gelyk het ten tye van die storm.