SAVF vier Kersete saam bejaardes

Bejaardes wat die verrigtinge geniet.
Bejaardes wat die verrigtinge geniet.

THABAZIMBI – Die SAVF kantoor in Thabazimbi het op Vrydag die 20ste November ‘n kersete en vermaak vir die bejaardes van die dorp asook vir Bosveldoord en Immergroen gegee. Bejaardes is trakteer met vermaak deur drie verskillende groepe.
Die instrumentale orkes van Elize Bezuidenhout het almal vermaak met tradisionele liedere soos suikerbossie asook gewyde- en kersliedere op kitare, blokfluite en ‘n elektriese kitaar terwyl juffrou Elize die groep begelei het op die klavier. Die bejaardes het dit baie geniet en het heerlik saamgesing. Herman Meyer het sy vernuf op verskeie instrumente gewys deur op ‘n saag, trekklavier, konsertina en klavier musiek te maak. Dit het ook groot aanklank gevind by die bejaardes wat sommer baie vrae gehad het vir Herman oor sy musiektalent. Herman het geen formele opleiding nie en speel al die instrumente op gehoor. Hy speel ook die banjo. Pieter van der Merwe het die verrigtinge met sang afgesluit met die lied “Hoe se mens dankie” van Jurie Els aan die bejaardes. Almal is bederf met heerlike maalvleis pannekoeke met kaassous en ‘n soet piesang-en-karamel pannekoek vir nagereg.
Na die verrigtinge het al die gaskunstenaars en die bejaardes geskenkies ontvang. Linda Grobler, koördineerder van die kersprojek meld dat hulle jaarliks twee funksies vir die bejaardes hou om hulle te bederf en spesiaal te laat voel. Sy meld dat bejaardes deel van ons gemeenskap is en ons hulle nie moet vergeet nie. Hulle het soveel kennis, ervaring en wysheid waarvan ons kan leer. Linda bedank al die gaskunstenaars vir die vermaak asook al die SAVF vrywilligers wat altyd so fluks help met die funksies. Sy nooi mense uit om deel te word van die span en aan te sluit as ‘n vrywilliger by die SAVF om ‘n verskil te maak aan ander se lewens. Grobler meld dat hulle baie projekte in die gemeenskap aanpak waarvoor hulle altyd hande en hulp nodig het. Die kantoor telefoon nommer is 014 777 1093 of die kantoor kan besoek word by 5 Parklaan in die week.