Sakeman skielik oorlede

Dirk Koekemoer, bekende sakeman en paneelklopper in Thabazimbi, is Saterdagoggend oorlede.
Dirk Koekemoer, bekende sakeman en paneelklopper in Thabazimbi, is Saterdagoggend oorlede.

THABAZIMBI – Een van Thabazimbi se ou inwoners wat as jong man destyds by Istores Garage, in die dae toe dit nog in die gebou wat later deur Itereleng opleidingsentrum gebruik is, as paneelklopper aangestel is, en steeds daar werksaam was toe die agentskap van General Motors na Delta verander het, Dirk Koekemoer (65) is Saterdagoggend oorlede.
Dirk, wat op Steenbokpan grootgeword het, het na sy hoërskoolloopbaan na Pretoria verhuis waar hy sy vakleerlingskap as paneelklopper voltooi het. Dit was ook daar dat hy sy eggenote, Joey, ontmoet het en die twee getroud is. Die oudste twee kinders, Hannetjie (wat nou in Potgietersrus bly) en Josine (van Thabazimbi) is in Pretoria gebore voordat Dirk besluit het om ‘n pos by Thabazimbi Motors te aanvaar. Hy het saam met sy gesin in 1978 hierheen verhuis. Hannes, die jongste, is later op Thabazimbi gebore.
Al drie die kinders het hul skoolloopbane hier op Thabazimbi voltooi en Hannes het saam met sy pa by Bosveld Paneelkloppers, die firma wat Dirk begin het toe die garage ondertoe geskuif het, gewerk.
Dirk was ‘n ywerige jagter en visserman, en het menige wildboer gereeld uitgehelp om die jagters, wat op hul plase kom jag het, te vergesel. Joey het deur die jare bekendheid verwerf met haar gimnastiekafrigting waarmee sy haar steeds besig hou.
Gedurende Januarie vanjaar het Dirk ‘n groot hartomleidingoperasie ondergaan wat sy gesondheid ‘n knak gegee het. Hy het die besigheid hoofsaaklik aan Hannes oorgelaat en het baie kere van die huis af werk toe en terug gestap vir bietjie oefening.
Die begrafnis vind vandag, Vrydag 27 November, om 1 uur vanuit die Hervormde Kerk Thabazimbi plaas. Die teraardebestelling sal in die Thabazimbi begraafplaas wees.