Zuma en ANC eerste

comment
President Jacob Zuma maak dit daagliks duideliker dat sover dit hom aan betref kom die ANC eerste en daarna Suid-Afrika en sy mense. Dit is duidelik dat hy homself, deur die ANC, as die algehele regeerder van die land sien.
Geen wonder dat elke aantuiging wat teen hom in die parlement, indien hy wel ‘n sitting bywoon, smalend en openlik afgelag word. Sy dikvellige houding is ‘n aanduiding van sy minagting vir die hoogste gesag, die Parlement, en howe in die land. Hy as President sien hom reeds as onaantasbaar.
Die ANC het in die twintig jaar plus wat hulle aan bewind is, die ekonomie en gepaardgaande infrastruktuur vernietig. Indien hier nie dringend aandag aan gegee word nie, gaan dit meer as een generasie neem net om dit op te bou tot op die standaard wat dit was toe die ANC beheer oor Suid-Afrika oorgeneem het.
Ons spoornetwerk kom nie op dreef nie, net soos die nasionale lugdiens. In beide gevalle is bates verkoop in ‘n poging om geld in hul eie sakke te steek en ‘n vals beeld van groei te skep.
Eskom, wat eintlik ‘n staatsinstelling is, gebruik belastingbetalers se geld om steeds die indruk te skep dat dit goed gaan met Eskom. Dit, nieteenstaande die feit dat Medupi vyf jaar agter skedule is en uitvoerende hoofde belaglike prestasiebonusse toegeken word. Een van die groot redes vir hierdie agterstand is dat die ANC self ‘n aandeel gehad het in die firma wat die drukkokers moes voorsien. Dit het daartoe gelei dat die ANC glad nie opgetree het toe stakers alle werksaamhede op die terrein omver gegooi het toe kundige buitelandse vakmanne aangestel, is aangesien daar geen kundige swart vakmanne was nie.
Steeds wil hulle voortgaan op hul eie en biljarde rand spandeer op kernkragsentrales wat die land eenvoudig net nie kan bekostig nie. Daarby wil Eskom self die projekte bestuur waar hulle duidelik met Medupi en Kusile die pad byster geraak het.
Eskom se hoof uitvoerende bestuurder, Brian Molefe het hierdie week gesê dat Eskom wel in die posisie is om hierdie kernkragsentrales self te bou en bestuur. “Kyk mens net na Eskom se balansstaat, kan jy sien hoekom dit wel uitvoerbaar is.” Indien dit die geval is hoekom word daar nie eerder geld spandeer op die instandhouding van bestaande kragstasies nie en hoekom moet die verbruiker so baie vir krag betaal?