NEOS ook in Afrikaans

NEOSs 14x3 20 Nov
THABAZIMBI – Neos Christen Skool op Koedoeskop sal vanaf Januarie 2016 ook alle vakke in Afrikaans aanbied. Die bestuur van die skool het op aanvraag van die publiek besluit om die status van die skool na dubbelmedium te verander.
Leerders van Gr 0 – Gr 12 sal dus voortaan ingeskryf kan word in of Afrikaans of Engels. Graad 12 leerders sal dus die Nasionale Senior Sertifikaat eksamen in die taal van hul keuse kan aflê. Buiten al die gewone vakke vir Gr 0 – 9 vorm Bybelonderrig as ‘n vak ‘n kardinale deel van die opvoeding en onderrig werk by die skool.
Vir Graad 10 – 12 word die volgende vakke aangebied : Huistaal, eerste Addisionele Taal, Wiskunde of Wiskundige Geleterdheid en Lewensorrientering. Keusevakke sluit in Landbouwetenskappe, Landboubestuurspraktyke, Lewenswetenskappe, Fisiese Wetenskappe, Rekenaartoepassingstegnologie, Inligtingstegnologie, Geografie, Dramatiese Kunste, Visuele Kunste, Religiestudies, Rekeningkunde, Besigheidstudies, Ekononie, Ingenieursgrafika en Ontwerp, Gasvryheidsstudies, Verbruikersstudies en Toerisme.
Neos is gemik op indivduele onderrig vir die individu en is ‘n Bybelfundeerded skool met streng dissipline. Die klasse is klein in getal en daarom kry leerlinge persoonlike aandag. Skoolgelde is verbasend laag in vergelyking met ander privaat skole en is selfs kompeterend met die gewone staatskole.
Neos is hierdie jaar 15 jaar oud en spog met ‘n baie mooi skoolterrein, goeie fasiliteite, knap onderwyspersoneel en ‘n rekord van studente wat uitmuntend vaar op universiteite dwarsdeur Suid- Afrika en selfs in die buiteland. Die skool bied verskillende sportsoorte aan en meeste daarvan tot op nasionale vlak. Gewilde sportsoorte wat aangebied word is: Atletiek (ook op klubvlak), sewes rugby, landloop, boogskiet, vlugbal, mini krieket, netbal, tafeltennis, skaak, sokker en swem. Nuwe sportsoorte wat aangebied sal word vanaf 2016 is hokkie en skyfskiet. Perdry (as terapie) word ook aangebied vir veral die junior leerlinge in die skool.
Neos skool is geleë 35 km vanaf Thabazimbi en daar is busroetes vanaf Thabazimbi, Setaria, Amadelebult en Koedoeskop van en na die skool. Vervoer vanaf Rooiberg en Leeupoort is ook ‘n moontlikheid vanaf 2016. Koshuis inwoning op die skoolterrein is beskikbaar en maak talle leerlinge vanuit Botswana (Gabarone, Maun en Gansie) van hierdie uitstekende fasiliteit gebruik.