Beeste word ingespan om sypaadjies skoon te maak

Beeste-070
THABAZIMBI – “’n Boer maak ‘n plan” en dit is dan ook juis dit wat Raadslid Bertie Joubert van die DA Thabazimbi en Dries Raath, ontwikkelaar van Uitbreiding 37 Thabazimbi, gemaak het om onder andere die sypaadjies in die uitbreiding van 94 erwe te “sny”.
Bertie en Dries het met ‘n boer gereel om sy beeste in Uitbreiding 37 af te laai wat ‘n wen-wen situasie is, siende dat dit nog baie droog is en die beeste vir n ruk goeie weiding sal hê. Die gras van Uitbreiding 37 (40% bebou en ‘n verdere 25 huise wat nou deur Dries Raath gebou gaan word), word dan ook kort gewei.
Sedert die proklamasie van Uitbreiding 37 het die munisipaliteit die afgelope 8 jaar nog net 1 keer die sypaadjies gesny. Die straatligte brand die afgelope 8 jaar dag en nag. Bertie Joubert het al vir die munisipaliteit ‘n dag / nag skakelaar gekoop vir R350 om die straatligte slegs in die aand te laat brand, maar helaas, niks is gedoen nie en die ligte brand steeds dag en nag.
Die rioolpompe in die uitbreiding is vir 5 jaar al buite werking en Raadslid Joubert het nou gereel met n privaat maatskappy om die riool in die uitbreiding uit te suig. Al die mangate in die uitbreiding is oorstroom en loop riool op die erwe. Die munisipaliteit het hom by 13 geleenthede belowe dat die pompe vervang sal word. Die uitbreiding is in ‘n haglike toestand omdat die munisipaliteit geen onderhoudsdienste lewer nie. Die uitbreiding is ook sedert proklamasie gedurende die dag sonder water en inwoners kry slegs water indien hulle in besit is van ‘n watertenk (5 000 liter), welke tenks vanaf 23h00 in die aand stadig invloei.
Thabazimbi Munisipaliteit is bankrot, te danke aan absolute wanbestuur en swak leierskap en die DA het die LUR versoek om die munisipaliteit onder administrasie te plaas.