Hartaanval eis ou inwoner

Sakkie Engelbrecht wat Saterdag stil gesterf het.
Sakkie Engelbrecht wat Saterdag stil gesterf het.

THABAZIMBI – Een van Thabazimbi se oudste inwoners, Sakkie Engelbrecht (73) is Saterdag 24 Oktober skielik uit die lewe geruk terwyl hy en sy vrou, Marthie, na die begin van die Rugby wedstryd tussen Nieu-Zeeland en Suid-Afrika gekyk het.
Sakkie het blykbaar ‘n hartaanval gehad net daar waar hy gesit het. Toe Marthie besef dat hy probleme ondervind, het sy dadelik Boetie, hulle seun wat by hulle inwoon geroep om te kom help. Hy het onmiddelik sy twee broers geskakel om te kom help waarna die ambulansdienste geskakel is.
Sakkie was ‘n hartlyer en het reeds twee hartomleidings-operasies ondergaan. Hy het ook ‘n pasaangeërder gehad.
Die familie het dan ook hul dank uitgespreek teenoor George Childs, wat spoedig op die toneel was en paramediese hulp verskaf het om te probeer om Sakkie weer by te bring. Nieteenstaande verskeie pogings is hy teen omstreeks 19:00 dood verklaar.
Sakkie was een van die 50’s wat in 1992 vrywillige pakket by Yskor gevat het en uit diens van die firma getree het.
Hy is in Rustenburg gebore en het daar groot geword. Na sy skoolloopbaan het hy werk aanvaar as omsetter by die Premier myn naby Cullinan. Gedurende 1960 het hy besluit om by Yskor Thabazimbi as myner te werk. Gedurende sy tyd by Thabazimbimyn het hy beide ondergronds en bo-gronds as myner gewerk. Drie jaar nadat hy op Thabazimbi begin werk het, het hy sy toekomstige eggenote Marthie ontmoet. Hy en Marthie is nog dieselfde jaar getroud.
Uit die huwelik is vyf kinders gebore. Hulle is Hester, wat tyd lank as Kwêvoël verteenwoordiger in Ellisras gewerk het, Boetie (Zagrys) wat saam met sy gesin by Marthie en Sakkie bly, Nico, Henk en Berinda. Al die kinders is hier in Thabazimbi gebore, in die Hervormde Kerk gedoop en het belydenis van geloof in dieselfde kerk afgelê.
Sakkie en Marthie het juis vir twee weke by Berinda en haar man Fanie in Wes Transvaal gekuier. ‘n Week nadat hulle terug was by die huis is Sakkie oorlede.
Die begrafnis was gister, Donderdag 29 Oktober vanuit die Nerdeduitsch Hervormde Gemeente Vliegepoort. Hy word oorleef deur sy eggenote, Marthie, kinders, dertien kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Die familie spreek dan ook hul dankbaarheid uit tenoor die noodhulppersoneel wat hulle gehelp het en almal wat hulle gedurende hierdie tyd ondersteun het.