Dis ek, Anna verower die nommer drie-posisie

Niel van Deventer van Palama Productions vervaardiger, van “Dis ek, Anna”, en sy vrou, Charlené Brouwer, wat die rol van Anna vertolk het, het die landswye vrystelling van die film Saterdagoggend by die KunsteGrot op Thabazimbi bygewoon. Saam met hulle is Rita Volschenk (middel) van die KunsteGrot.
Niel van Deventer van Palama Productions vervaardiger, van “Dis ek, Anna”, en sy vrou, Charlené Brouwer, wat die rol van Anna vertolk het, het die landswye vrystelling van die film Saterdagoggend by die KunsteGrot op Thabazimbi bygewoon. Saam met hulle is Rita Volschenk (middel) van die KunsteGrot.

THABAZIMBI – Dis ek, Anna (It’s me, Anna) het ’n fantastiese openingsnaweek by die kaartjiekantore beleef en die hoogste gemiddeld per afdruk (print) van al die rolprente wat die afgelope naweek vrygestel is, behaal. Dié rolprent beklee tans die nommer 3-posisie uit die top 10 uitvoerende rolprente by die plaaslike loket.
Vanweë die wye belangstelling wat die film op Thabazimbi ontlont het, is daar besluit om dit weer op Saterdag 21 November om 10:30 en 19:00 by die KunsteGrot op Thabazimbi te vertoon. Alhoewel ‘n ouderdoms verbod van 16 jaar op die film geplaas is, is daar geen naak of sekstonele, maar gaan die verbod meer oor die sensitiwiteit van die tema wat aangespreek word.
“Ons is hoogs in ons skik met die openingsnaweek se kaartjieverkope”, het Times Media Films se algemene bestuurder, Driki van Zyl, gesê. “Die rolprent het besonder goed presteer, ten spyte van die feit dat dit Saterdag met die Rugby Wêreldbeker en die Currie-bekereindstryd moes meeding – en dit terwyl Saterdae gewoonlik die belangrikste dag vir teaterbywoning is. Times Media Films is trots daarop om hierdie merkwaardige prent te versprei en die uitstekende reaksie by die kaartjiekantore die afgelope naweek het bewys dat ons gehore gehalte waardeer en rolprente van plaaslike vervaardigers wat jou laat nadink, wil sien.”
Niel van Deventer van Palama Productions het die prent vervaardig terwyl Sara Blecher aan die stuur van sake was. Die rolprent is op die gefiksionaliseerde topverkoperromans, Ek, Anna en Die Staat teen Anna Bruwer deur Anchien Troskie geskoei. Dis ek, Anna se rolverdeling sluit ondermeer Charlené Brouwer, Marius Weyers, Nicola Hanekom, Mornè Visser, Eduan van Jaarsveldt, Drikus Volschenk, Ilse Klink, Elton Andrew, Elize Cawood en Dawid Minnaar, asook die nuweling Izel Bezuidenhout, in.
Die film het groot lof van die plaaslike resente ontvang en drie top toekennings (beste rolprent, beste regisseur en beste akteur) by die Silwerskermfees losgeslaan. Dis ek, Anna is nou op pad na Europa vir ’n reeks vertonings by internasionale rolprentfeeste.