Geskors – met volle vergoeding

comment
Uiteindelik! Kan ‘n mens jubel. Ons is ontslae van ons Polisiehoof, Riah Phiyega. Ongelukkig is sy maar een van talle wat met volle vergoeding geskors is terwyl die tug-ondersoek, wat jare kan duur, teen haar ondersoek word. Intussen moet die belastingbetaler haar salaris, asook die salaris van die persoon wat in haar plek waarneem, betaal terwyl sy sit en niks doen nie.
Sy is ‘n sprekende voorbeeld van ‘n ANC kaderaanstelling van ‘n onbevoegde persoon in ‘n senior uitvoerende posisie en beslis nie die laaste een wat hierdie eer te beurt gaan val nie. Ek vermoed dat ons eie President na so iets verlang. Ten minste totdat hy uiteindelik die beheer as koning van die Zulus, en daarmee saam die koning van Suid-Afrika, sy geboortereg opeis. Hy hoef dan nie sy gesig in die Parlement te wys nie en hoef hy ook nie verder te dink oor hoe hy sy verpligtinge as President van Suid-Afrika kan omseil, sonder om enige waardetoevoeging tot hierdie land te gee nie. Dit is goed om te sien dat die nasionale vlak media wakker word en besef dat Zuma se uiteindelike doel is om koningskap van Suid-Afrika te bekom. Op ‘n stadium was ek bang dis dalk Winny, maar teen so ‘n seksistiese leier, teen wie ‘n saak gemaak is dat hy ‘n lesbiese vrou verkrag het, en sy agt of wat vroue, het sy nie ‘n kans nie.
Plaaslik sit ons met dieselfde geval. ‘n Munisipale bestuurder wat geskors is met volle soldy totdat die tugverhoor teen hom, eendag in die verre verskiet, hom skuldig bevind. Hy was eenvoudig onbevoeg om sy werk tot voordeel van die dorp en sy inwoners te verrig. Dienste het daaronder gelei terwyl korrupsie hoogty gevier het. Hy is deur ‘n waarnemende Munisipale bestuurder vervang, die einste tegniese bestuurder gedurende wie se tyd ‘n miljoen of wat weggeraak het, sonder dat daar enige rekenskap hiervoor gegee kan word of dat enige poging aangewend word om dit uit te lig nie.
Hy is in elk geval nie in staat om sy werk te doen nie en onder leiding van ‘n raadslid wat die posisie van Burgemeester ten volle uitleef asof die inwoners van Thabazimbi haar onderdane is en net soos in die feudale tydperk (*sien ook: https://prezi.com/zxyrmypccnn5/the-fuedal-system/), haar begroting aanpas by haar en haar raadslede se lewenswyse sonder om te kyk dat die dienste wat die munisipaliteit aan die inwoners bied, behoorlik uitgevoer word nie.
Vir elke onbekwame burgemeester, munisipale bestuurder, tegniese bestuurder, finansiële bestuurder asook vir elke uitvoerende posisie in munisipaliteite regoor al die provinsies, uitgesonder Wes Kaap, is daar ‘n raadgewende persoon of instansie, wat dieselfde voordele en salaris verdien as die uitvoerende beampte wie se werk hy moet doen, indien nie meer nie, veral as daar nog ‘n bykomende raadgewer aangestel word aangesien die vorige tydelike aanstelling maar net weereens ‘n kaderontplooiing was van ‘n onbevoegde persoon.
Hierdie tendens strek van die laags beslodigste werker wat sommer net kan staak en dan Saterdae opdaag sodat hy oortyd kan verdien, tot die hoogste vlakke in die sentrale regering.
Dit is nie net die korrupsie deur van tenderpreneurs gebruik te maak dat ons land in so ‘n ekonomiese gemors is nie, maar die feit dat elke pos wat die ANC vul, ongeag die vlak, word ten minste drie persone se salaris bestee om die kader-stelsel aan die gang te hou.
Die afgelope paar weke is omtrent al die Thabazimbi Munisipaliteit se voertuie, kantoormeubels en elektroniese toerusting op beslag gelê en van die perseel verwyder. Dit gaan nie ‘n duit verskil maak aan die werking van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit nie want al die werk wat hulle veronderstel is om op hul eie rekenaars en by hul eie lessenaars te doen is reeds drievoudig uitgekontrakteur. Inwoners sal steeds hul rekenings vir dienste wat nie gelewer word nie ontvang. Steeds sal watertoevoer en krag sonder rede afgesny word, daar is mos kontrakteurs wat hierdie funksie moet vervul. Hierdie beslagleggings wat gedoen word beteken net een lang vakansie vir die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit. Hulle het nie meer ‘n stoel om op te sit nie. Genoeg rede om by die huis te doen wat hulle in elk geval by die werk gedoen het.
Hoop net ‘n kommissie van ondersoek word ingestel om al die rekenaars waarop beslag gelê is, se hardeskywe te deursoek vir pornografie en privaatgebruik van sosiale netwerke op adresse en rekenaars wat eintlik aan die belastingbetalers van Thabazimbi behoort. Op hierdie manier kan mens dalk ontslae raak van die mense wat daarop staatmaak om met volle vergoeding geskors te word.
Die grootste rede vir geen dienslewering is onbevoegdheid wat veroorsaak dat munisipaliteite en die sentrale regering soveel vir adviseurs en kontrakteurs moet betaal dat nadat al die salarisse aan hulself en dit wat hulle moet betaal om hul werk te doen, daar eenvoudig nie genoeg geld oor is om ook nog die munisipaliteit se krag en waterrekening aan instansies soos Eskom en Magalies water kan betaal nie.
Daar is eenvoudig net te min belastingebetalers om hulle begrotings te laat klop. Dit is juis om hierdie rede dat veral Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit belastings en tariewe verhoog is om hul bestuurswyse te kan regverdig en steeds in weelde te leef. Dit is nou weelde teenoor die armoede waarin hul ondersteuners, die mense wat vir die ANC gestem het, daagliks moet probeer oorleef. Dit is die ANC, sy kaders en hul ondersteuners, wat in elk geval meestal werkloos is en in absolute armoede lewer, wat weereens vir die ANC tydens die volgende verkiesing gaan stem. Opvoeding help nie, want nie een van hierdie ondersteuners besef wat die begrip demokrasie beteken nie.

* Vervang net die woorde (in hakkies): Serfs/Pheasants (burgers); Knights (Generaals); Barons (ANC kader / hoofmanne); Earls (munisipaliteite en munisipale rade); Marquess (burgemeesters); Dukes (provinsiale leiers) en King (President) en jy sal sien waarheen die ANC oppad is. Die luukse wat die ontwikkelde wêreld en kultuur kan bied sal nooit opgesê word nie, verder bly alles maar dieselfde.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël