Partydjie saam met die Duitse Mannekoor

Die Duitse Mannekoor
Die Duitse Mannekoor

THABAZIMBI – Dit wat hulle beloof het, naamlik ‘n partytjie, het die Duitse Mannekoor wat Thabazimbi voor-verlede naweek besoek het, het die mense van Thabazimbi deur en deur gekry.
Alles het by Dewside, waar hulle Vrydagmiddag en aand gekuier het, begin. Al die tafels in die restaurant is deur hulle bespreek en so ook die buite tafels, waar toevallige besoekers by Dewside opgedaag het, gekuier het, was vol.
Dit was gou duidelik dat hierdie manne en hul wederhelftes nie verniet Thabazimbi toe gekom het nie – dit was partytjietyd. Voor en na ete bedien is, het hulle aan tafel losgetrek met ‘n verskeidenheid van Duitse en Afrikaanse liedjies. Die mense wat buite gesit het is gou ingetrek en het uit volle bors saam gesing. Dit het gewissel van “Geluk Liewe Maatjie” vir Burkie tot die Suid-Wes lied vir Riaan.
Dit het nie hier geëndig nie. Die volgende dag was dit Thaba Super KunsteGrot se beurt waar die manne reeds vroeg reggemaak het en die gaste vermaak is met klassieke Duitse volksliedere onder leiding van hulle afrigster, Carola Krzywanski.
‘n Kontantkroeg het gesorg vir lekker koue bier en tussenin is die honger mae gestil met lekker Bokwurst, broodjies en mostert.
Die saal was feitlik vol en die hele gehoor het lustig saam gesing met liedjies wat gewissel het van Sarie Marais tot die tradisionele “Faria” en vele ander Duitse liedjies.
Hierdie was gewis ‘n kuieraand wat goeie grond het om jaarliks herhaal te word. Moet nie die volgende een misloop nie.