Hercules onder hamer slaan rekord

Van links voor: Jan van den Heever (Trophy Breeders), Marissa van den Heever en Daniek van den Heever. Agter: Ankie Stroebel (WRSA), Tanya Keyser en Adriette Nagel.
Van links voor: Jan van den Heever (Trophy Breeders), Marissa van den Heever en Daniek van den Heever. Agter: Ankie Stroebel (WRSA), Tanya Keyser en Adriette Nagel.
Hercules, die uitmuntende koedoebul van Dries Visser, wat verkoop is vir rekord bedrag van R 9,4 miljoen.
Hercules, die uitmuntende koedoebul van Dries Visser, wat verkoop is vir rekord bedrag van R 9,4 miljoen.

JJ van Altena van Global Supplies, Tania Kaiser (Trophy Breeders) en Wiaan van der Linde (Wintershoek).
JJ van Altena van Global Supplies, Tania Kaiser (Trophy Breeders) en Wiaan van der Linde (Wintershoek).

THABAZIMBI – Hercules, die grootste koedoebul wat tot dusver op ’n veiling verkoop is, het Saterdag, 12 September 2015 ’n rekordprys behaal tydens die sesde jaarlikse Trophy Breeders® veiling in Thabazimbi. Hercules, ’n merkwaardige koedoe met ’n horinglengte van 66?”, is vir R9.4m aan ’n konsortium wildtelers verkoop. Die vorige rekordprys vir ‘n koedoebul was R2,4 miljoen. Hiermee kan ‘n opbloei verwag word in die prys van top gehalte koedoes, vergelykbaar met swartwitpense.
Die Trophy Breeders® veiling, aangebied deur Vleissentraal Bosveld, was ’n besondere sukses. Die veiling het sy gehalte-posisionering gestand gedoen met verwagte pryse wat grotendeels behaal is. Louis Cloete, voorsitter van Trophy Breeders®, is baie tevrede met die omset van R50m wat bereik is. “Ons sê altyd dat jy die beste genetika teen die regte prys by die Trophy Breeders® veiling kan bekom. Dit het Saterdag gebeur. Ek het tevrede kopers en verkopers ná die veiling raakgeloop.”
Tydens die geselligheid die vorige aand, het Dries Visser van Dries Visser Pure-bred Game, en deel van die Trophy Breeders® groep, aan Kwêvoël gesê dat Hercules alle rekords vir gewone wild gaan verpletter. Nieteenstaande die feit dat Hercules as trofee amper teen ‘n Amerikaanse boogjagter se muur sou hang, is hierdie manjifieke dier ‘n voorbeeld wat met gewone wild bereik kan word. “Dit kan net deur die regte toepassing van wildboerdery plaasvind. Hierdie is ‘n bewys dat gene nie gemanipuleer hoef te word om eksotiese wild te skep nie. Deur die regte gene in jou wild te identifiseer en daarop te konsentreer, kan die spesie verder ontwikkel word om die volle potensiaal van daardie spesie te ontwikkel” het Visser gesê. Hercules is ‘n sprekende voorbeeld daarvan. “Ons gewone wild sal steeds hul plek in die bedryf kan volstaan.” Buiten sy gewone bedrywighede as wildboer en boogskiet safari operateur, is Dries Visser ook beken vir die uitmuntende Swartwitpense wat hy teel.
Dit het die vraag laat ontstaan hoekom ’n groep ervare wildtelers soos Louis van der Watt (deel van die consortium wat die koedoebul gekoop het), Piet du Toit en Beyers Gerber soveel vir ’n koedoebul sou betaal. Dries Visser het verder verduidelik dat koedoes na sy mening ’n geruime tyd onderwaardeer was. “Om ’n koedoe te jag is een van elke jagter se grootste drome. Omtrent elke jagter wat van oorsee af kom wil ’n graag ’n koedoe jag. Die koedoe is ’n besondere mooi en gesogte dier.”
Visser sê ook dat dit die jagmark is wat die finansiële dryfveer agter wild teel is. “Op die ou einde teel ons om top genetika te bewaar en te verbeter sodat die gehalte van diere in die jagmark al beter word oor tyd. Ek is baie in my skik dat die algemene prys vir koedoes nou sal verhoog. Dit beteken ’n groot hoeveelheid wildtelers en algemene boere sal by só ’n hoër prys kan baat vind.”
Piet du Toit en sy vennoot Beyers Gerber is groot geeste in die wildteel bedryf. Hulle stem saam dat daar ’n opbloei in die koedoeprys te wagte kan wees. “Vlaktewild soos koedoes raak al hoe meer gewild in die teelmark,” beklemtoon Du Toit. “Ek en Beyers verwag dat goeie pryse in die toekoms vir uitstaande vlaktewild, soos besondere groot koedoes, behaal gaan word.”
Die besigheidsmodel van vlaktewild trek ook al hoe meer aandag. Louis van der Watt van Meletse Game Breeders, lid van Trophy Breeders®, meen die een of twee persent top koedoes kan vergelyk word met die gehalte swartwitpensmark. “Daar het al seker sowat 25 of 30 top swartwitpense pryse op veilings behaal wat hoër is as waarvoor Hercules aangekoop is. Daar is dus geen rede hoekom die werklik uitstaande koedoes nie ook hierdie pryse kan behaal nie.”
Die konsortium wat Hercules aangekoop het se plan is om die heel beste koedoes saam te voeg om ’n klub van groter koedoes te vorm. Só sal hulle kan verseker dat besondere gehalte koedoes geteel kan word wat metertyd in die mark bekendgestel sal word. Hulle het reeds ’n groep van die top koedoes in die land bymekaargemaak, waarvan Hercules die nuutste is.
“Die tendens van gehalte koedoekoeie wat rekordpryse op veilings behaal ondersteun hierdie strategie,” sê van der Watt. By die Trophy Breeders® veiling en by Stud Game Breeders se veiling, die vorige naweek het uitstaande koedoekoeie pryse van sowat R400 000 elk behaal, dit net omdat die koeie dragtig was van Mr Wow, ‘n koedoebul in die klas van Hercules (Sien berig in Kwêvoël 11 September). Dit bewys dat daar beslis in die toekoms verwag kan word dat koedoepryse oor die algemeen sal styg. Die werklike top een of twee persent van koedoes sal dus pryse kan bereik wat met die beste swartwitpenspryse kan vergelyk.
“Die toekoms vir gehalte koedoes is besonder rooskleurig. Ek verwag dat Hercules nie die laaste reuseprys vir ’n koedoebul sal wees nie. Dit is net die begin, aangesien sy nageslag oor tyd die mark teen ’n premie sal bereik.”
Vleissentraal Bosveld het die veiling aangebied en Brandon Leer was die afslaer.