Stud Game Breeders sorg vir ses rekordpryse

Met die eerste lentereën wat tydens die 10de Stud Game Breeders Wildveiling hard op die reuse-tent by die Zebula Gholf Landgoed & Spa neergeval het, is ses nuwe rekordpryse, asook ’n omset van oor die R201 miljoen behaal. Altesaam 265 volwasse diere en 24 kalwers het onder die hamer gekom. Die hoogste prys van die dag was die R12 miljoen wat die buffelkoei “Sonia” van Nyumbu Game behaal het. Sonia, ’n Oos-Afrika buffelkoei, spog met ’n horinglengte van 35¾” op 4 jaar en 6 maande. C-SA Properties was die koper.
Twee rekordpryse is vir swartwitpensbulle behaal. Kariba,’n Matetsi swartwitpensbul van Tembani Wildlife met ’n horinglengte van 45” op 4 jaar en 5 maande, is vir R2,6 miljoen aan Purple Rain Props van Johann Schreuder verkoop. Monte Carlo (NZ 23), ’n jong Zambiese swartwitpensbul van Nyumbu Game, en seun van die bekende bul Charlie (50½”), is vir R3,5 miljoen aan Ronnie Coleman verkoop.
Koedoekoeie se prys het die hele saal aan die gons gehad. Vyf koedoekoeie van Tembami Wildlife, dragtig van die 63?” bul “Mr Wow” is vir R420 000 stuk aan C-SA properties verkoop. Nog ses koedoekoeie, dragtig van ’n 64½” bul van Nyumbu Game, het R400 000 stuk behaal.
’n Witrenosterkoei met ’n groot bulkalf het R740 000 behaal, terwyl ’n goue gemsbokkoei met ’n kalf vir R950 000 verkoop is — albei nuwe rekordpryse.
Volgens Niel Swart van Vleissentraal Bosveld, wat die veiling aangebied het, kan die sukses van die veiling aan die verkopers se onfeilbare reputasie, asook die kwaliteit van die diere toegeskryf word. Kopers is voor die veiling na al die verkopers se plase gevlieg om diere aan hulle te wys. “Die moeite wat Stud Game Breeders se verkopers doen om hul diere aan die mark bekend te stel, is net ongelooflik. Dit alles dra by tot die sukses van hierdie veiling,” het Swart gesê.

Koedoekoeie wat deur hierdie koedoebul “WOW”  gedek is, behaal rekordprys van R 420 000.00 stuk tydens die veiling.
Koedoekoeie wat deur hierdie koedoebul “WOW” gedek is, behaal rekordprys van R 420 000.00 stuk tydens die veiling.