Interaktiewe Inligtingsessie saam met Thabazimbi ATKV-tak

Op die foto van links: Domenic Paris (Bestuurder ATKV-Takke), Rita Volschenk  (Bestuurslid van ATKV Thabazimbi-tak, Marco van den Bergh (ATKV Streekorganiseerder) en Mari van Jaarsveld wat die sangitems gelewer het.
Op die foto van links: Domenic Paris (Bestuurder ATKV-Takke), Rita Volschenk (Bestuurslid van ATKV Thabazimbi-tak, Marco van den Bergh (ATKV Streekorganiseerder) en Mari van Jaarsveld wat die sangitems gelewer het.

THABAZIMBI – Die ATKV (Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging) Thabazimbi-tak, is een van die takke in die streek waar ‘n interaktiewe inligtingsessie gehou is om sy lede bewus te maak van die rol wat die ATKV in die samelewing vervul.
Tydens hierdie geleentheid, Dinsdagaand in die Super KunsteGrot op Thabazimbi is ook van die geleentheid gebruik gemaak om van die plaaslike Afrikaanse kultuur aan die besoekers bloot te stel. Hieronder was Mari van Jaarsveld, een van Thabazimbi se befaamde sangeresse wat ‘n paar Afrikaanse liedjies gesing het, asook RiVo-Drama se hoërskoolstudente wat met ‘n toneelstuk en mimiek-item die aanwesiges vermaak het.
Die gaspreker tydens die geleentheid was mnr Japie Gouws (Besturende Direkteur, ATKV-Groep). Hy is vergesel deur mnre Domenic Paris (Bestuurder ATKV-takke) en Marco van den Bergh (Streekorganiseerder).
Gouws het in sy rede verwys na die lang geskiedenis en die rol wat die ATKV sedert sy ontstaan in 1930, te danke aan die Afrikaanse taal, vervul het deur te verseker dat die taal nie deur Engels versmoor word en net ‘n kombuistaal bly nie. Hierdie aksie is geneem deur ‘n groep Afrikaanssprekende spoorwegwerkers wat ondervind het dat die Unie van Suid-Afrika, onder beheer van die Engelse kolonialiste, die land totaal wou verengels. Die ATKV het tot stand gekom vyf jaar na die stryd om Afrikaans as amptelike taal op 5 Mei 1925 erken te kry, 15 jaar na Unie-wording.
Statistieke kan nie geïgnoreer word nie. Afrikaans is die taal wat derde meeste in Suid-Afrika gepraat word. Persentasiegewys word Zulu deur die meeste mense gepraat. Hulle word gevolg deur die Xhosa-sprekende gedeelte van die bevolking met Afrikaanssprekendes derde op die lys. Engelssprekendes, en dit sluit die mense wat hul kinders eerder Engelssprekend grootmaak, is sommer baie persentasiepunte onder die Afrikaanssprekendes.
As kultuurgroep reik die ATKV sekerlik die meeste uit na die res van die Suid-Afrikaanse bevolking. Hier begin hulle by die basis van onderrig, ons skole. Die ATKV is voorstaanders van moedertaal-onderrig, die basis wat by die kleuter tot op hoërskoolvlak, ongeag die taal wat hy praat, lê. Op hierdie manier word “Super-skole” geïdentifiseer. Dit is naamlik skole wat hul slaagpersentasie drasties verbeter. Selfs die kleinste skooltjie op die verste platteland kan hiervoor kwalifiseer. Die resultate wat die ATKV hiermee bereik spreek vir hulself en lê die basis vir ‘n jeug wat voorberei word om gevorderde studie, hetsy op universiteit of deur ‘n ambag hul plek in die samelewing vol te kan staan. Die onderwerpe wat in ag geneem word is die noodsaaklike van ‘n goeie skool, aanduiders van gehalte onderrig, strategieë om skole te verbeter, leierskap en die uitoefening van keuses asook die verwagtinge wat gehef word aan effektiewe hoofde.
Die ATKV is reeds tydens wêreldkongresse vir Kultuur Organisasies uitgesonder as dié een wat finansieel onafhanklik van die staat sy werk doen. Die wegspringplek hiervoor was Hartenbos vakansieoord net buite Mosselbaai. Daar was reeds ‘n stasie by Hartenbos en deurdat die ATKV uit die geledere van Afrikaanssprekende spoorwegwerkers sy ontstaan het, het hulle saamgespan en die aanliggende grond tot die stasie aangekoop vir vakansieplek vir hul lede.
Dit het nie lank gevat nie en aangesien werkers van die spoorweë basies verniet hul families op die trein kan laat ry vir ‘n vakansie by die see, het dit gou in populariteit toegeneem. Gesinne het hul tente saamgevat en kon langs die see gaan nesskop, binne loopafstand van die stasie. Hartenbos het gegroei tot een van die beste gesinsvakansieoorde in die land en het sodanig uitgebrei dat hulle selfs die grond oorkant die stasie, teen die berg uit kon aanskaf. Hierdie grond is reeds goedgekeur vir ‘n aftreeoord vir hul lede en sal ook selfs oor ‘n versorgingseenheid beskik.
Hulle ander bekende vakansieoorde sluit in Klein Kariba net buite Bela Bela, Eiland Spa en Goudini Spa, om maar drie van sewe vakansieoorde te noem.