Ingryping van Provinsie te laat en te min

DA
THABAZIMBI – Die Limpopo- provinsiale regering se ingryping in die Thabazimbi-munisipaliteit se geldsake is “te min, te laat”. Só sê Bertie Joubert, DA-koukusleier in die munisipaliteit, nadat Makoma Makhurupetje, LUR van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, Saterdag besluit het om ’n finansiële spesialis na die Thabazimbi-munisipaliteit te stuur omdat die munisipaliteit “onbevoeg is om finansiële eise na te kom”, berig Marietie Louw-Carstens op Netwerk 24 – Maandag 24 Augustus
Dit volg nadat Eskom gedreig het om die ganse dorp se elektrisiteit af te skakel omdat hulle miljoene rande se agterstallige skuld het.
Joubert sê die munisipaliteit is so te sê bankrot nadat Kwêvoël in die uitgawe van 3 Julie ‘n advertensie geplaas het van Eskom se voorneme om die kragtoevoer na Thabazimbi te reguleer omdat die munisipaliteit R121 miljoen aan Eskom verskuldig is. Ingevolge hierdie kennisgewing sal die kragtoevoer na die munisipaliteit afgesny sal word vanaf 18 Augustus en die dorp daagliks vir agt ure lank sonder krag sou sit. Die gedeeltes wat geraak sou wees is al die gebiede waarvan die munisipaliteit as grootmaatverbruiker krag verskaf naamlik Thabazimbi-dorp, Regorogile en die pompstasie. (Sien ook die Redaksionele kommentaar van Kwêvoël uitgawe 24 Julie 2015).
Hierdie besluit is deur Eskom geneem nadat ’n ooreenkoms wat verlede jaar aangegaan is om die bedrag af te betaal, verbreek is. Verskeie organisasies en myne in die omgewing het met Eskom vergader en daar is op 17 Augustus aangekondig dat die Thabazimbi-munisipaliteit 30 dae tyd gegee is om R19 miljoen se agterstallige skuld terug te betaal.
Joubert sê dít is slegs die oortjies van die seekoei. Die DA waarsku al vir jare dat die munisipaliteit se geldsake benard is.
’n Onafhanklike forensiese oudit wat in 2014 gedoen is, het bevind die munisipaliteit skuld Eskom, Magalies Water en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (Said) meer as R100 miljoen. Die provinsiale regering het daarvan geweet.
“Dit kan alles toegeskryf word aan swak leierskap, growwe nalatigheid en bedrieglike bestuurspraktyke,” sê Joubert, wat ’n doktorsgraad in ontwikkeling en bestuur het.
Cornelius Booysen neem waar as munisipale bestuurder nadat adv Edward Ntsoane as munisipale bestuurder geskors is. Ntsoane het glo met verskeie tenderprosesse nie die regte prosedures gevolg nie
Makhurupetje het P Khunou, die finansiële hoofbeampte van die departement, vir drie maande na Thabazimbi gestuur om die geldsake reg te ruk. Dit is gedoen ingevolge art.105 van die Munisipale Wet, nr. 32 van 2000, en art.154 van die Grondwet, wat aandui dat die LUR ’n verantwoordelikheid het om die munisipaliteit te help.
Amptenare van die provinsiale tesourie en ’n span van die departement van plaaslike regering sal Khunou bystaan.
Joubert sê die dorp sukkel boonop al vir jare met erge watertekorte. Slegs een van die vyf reservoirs en twee van die vyf boorgate werk. Dit nadat Kumba ‘n inspuiting van sowat R30milj aan die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit geskenk het om hierdie sake reg te stel. Dit het ingesluit die opgradering en herstel van die reservoirs asook die pompstasie, insluitend die verskaffing van nuwe pompe, waar pompe eenvoudig nie herstel of vervang is in gevalle waar ‘n pomp gebreek het of standaard onderhoud moes plaasvind nie. Hierby was ook ingesluit die verskaffing van nuwe pyplyne vanaf die boorgate na die pompstasie. Uiteindelik het Anglo ingespring en vier ou boorgate wat voorheen vir waterverskaffing gebruik is, skoon gemaak, die erg gevandaliseerde transformators vervang en nuwe pompe geïnstalleer het.
Die transformators is met swaar werktuie eenvoudig oopgesny en die koper binnegoed verwyder. Die moontlik dat werknemers van ‘n vorige kontrakteur wat werk hier verrig het die werk se toerusting gebruik het om hierdie transformators te vandaliseer, kan ook nie uitgesluit word nie. Dit is onbekend of ‘n kriminele klag hieroor by die SAPD gelê is nie.
Boonop het die munisipaliteit meer as R20 miljoen se agterstallige skuld by Magalies Water. Magalies Water wat slegs veronderstel was om watertekorte aan te vul indien die boorgate nie werk nie. Met die voortslepende waterverskaffingsprobleme was Thabazimbi totaal van Magalies Water afhanklik.
Joubert het weereens genoem dat die DA gaan vra dat die munisipaliteit onder amptelike administrasie geplaas word.