Nuwe lewe vir ou Istores skooltjie

Mnr Jimmy Lesenyane (Links agter), hoof van die Istores Laerskool op die Kumba Landgoed, saam met helpers van Thaba Superspar wat die skool kom help het om tydens Mandela dag te help met die skoonmaak van die skool sowel as die terrein rondom die skool.
Mnr Jimmy Lesenyane (Links agter), hoof van die Istores Laerskool op die Kumba Landgoed, saam met helpers van Thaba Superspar wat die skool kom help het om tydens Mandela dag te help met die skoonmaak van die skool sowel as die terrein rondom die skool.

THABAZIMBI – Die ou Istores-skooltjie op die Kumba Landgoed aangrensend aan die ou pad na Rustenburg by die Landgoed huise het ‘n nuwe inspuiting gekry met Thaba Superspar wie se wortels diep in die gemeenskap en veral by hierdie skooltjie, lê.
Die skool kom uit die vroeë jare toe Istores ‘n winkel van Yskor myn was, en Istores Yskor bygestaan in die onderhoud en ondersteuning van die skool. Die kinders was afkomstig van omliggende plase. Later van tyd toe Istores weggebreek het van Kumba, het die myn verantwoordelikheid vir die skool geneem.
Die kinders het oor die afgelope paar jaar ook van ander gebiede gekom. Baie van die kinders is ook van Bothasberg plakkerskamp.
Die projek om die skooltjie nuwe lewe te gee het sy oorsprong uit die 40 dae doelgerigte lewe program wat jaarliks deur die NG Kerk in Thabazimbi aangebied word. In 2014 het ‘n kleingroep van die NG kerk besluit om ‘n skool aan te neem in ons gemeenskap en sodoende daar ‘n verskil te maak. Hulle het Jesus Buddies genader om die evangelisasie programme by die skool aan te bied. Daar is besluit op die Istores Laerskool omdat dit so ver verwyderd is en baie min mense daarvan weet.
Spoedig het daar nie net evangelisasie werk plaasgevind nie, maar verskeie besighede het begin terugploeg in die skool. So was daar onder andere Paintnet wat ‘n groot rol gespeel het. Daar is ook ‘n groentetuin op Henk Brits van Paintnet se plaas wat die skool weekliks van groente voorsien. Die kleingroep het ook laas jaar ‘n projek geloots waar hulle vir elke kind ‘n warm baadjie, handskoene, ‘n mus en ‘n paar kouse vir skool gegee het.
Die Hope for Kids program is ook suksesvol in 2014 hier aangebied en elke kind het aan die einde van die jaar by ‘n prysuitdeling sy sertifikaat ontvang. Tans is daar 48 leerlinge in die skool.
Paintnet het laas jaar die klasse aan die binnekant uitgeverg terwyl die Year of Training groep van Nylstroom se studente klasse skoongemaak, reggepak en die mure afgewas het.
Hannes van Thaba Superspar het vanweë hul vorige betrokkenheid as Istores by die skool besluit dat hulle graag ‘n verskil by die skool maak en het as deel van Mandela dag se 67 minute, opknappingswerk daar gedoen. Hierdie opknappingswerk sluit in die herstel van die dak van die ablusieblok wat in 2011 afgewaai het tydens ‘n storm wat gepaard gegaan het met ‘n sterk wind.
Die 67minute het vinnig 67 ure geword.
Van die projekte het ingesluit, om die skool aan die buitekant uit te verf en om die werf rondom die skool skoon te maak.
Een van die langtermyn projekte wat beoog word is om die kinders rekenaar vaardig te kry. Die skool het tans geen rekenaars waarop kinders kan werk nie.
Mnr Jimmy Lesenyane, Hoof by Istores skool wil sy dank uitspreek teenoor Hannes van Superspar wat sy hand vir die skool oopgemaak het.