Jail n Bail laat tronkvoëls opdok

Die klomp Jailbirds saam met Judge Esmé (heel links) vlnr: Luzaan, Pieter, Bokkie, Anema, Moks en Tom.
Die klomp Jailbirds saam met Judge Esmé (heel links) vlnr: Luzaan, Pieter, Bokkie, Anema, Moks en Tom.

THABAZIMBI – ‘JAIL n BAIL’ is een van die jaarlikse fondsinsamelingsprojekte wat KANSA Waterberg aanbied en die jaar in Thabazimbi het dit op Saterdag, 25 Julie 2015 vanaf 10:00 tot 11:30 by Thabazimbi SuperSpar plaasgevind. Die‘JAIL BIRDS’ is kortliks ‘verhoor’ deur ‘REGTER’ Esmé Behrens, waarna hulle in die ‘BOS TRONK’ gegooi is en dan vrygelaat word deur om hul ‘BAIL’ gelde te betaal.
Die ‘JAIL BIRDS’, Anema Denton, Elize Pelser (Moksie), Pieter Coetzee, Tom Miller, Luzaan Combrink en Bokkie van Spar het gebedel, gesmeek en alles in hulle vermoë gedoen, selfs “gesteelde” wyn opgeveil, om geld vir KANSA in te samel.
Moks, die enigste “Survivor”, het beslis die grootste bydrae gemaak om die sukses van die dag te verseker. Buiten al die gees wat sy in almal ingeblaas het, het sy ook die meeste geld ingesamel vir kanker, al moes sy maar tronkmaniere uithaal en almal omkoop.
Party van die Jail Birds is losgelaat op goeie gedrag en het maar blikkies gaan skud om geld bymekaar te kry. Op die ou einde het die kontantbydraes en die blikkies die goeie bedrag van R27 000 gelewer.
Magdel van Cansa bedank dan ook vir Thabazimbi SuperSpar dat hulle dit daar kon aanbied. ‘n Groot dankie gaan aan Leon van Thabazimbi Glas vir die gebruik van die tronk-sleepwa, asook aan haar twee vrywilligers, Cecile en Shamen.