Fase oorhandiging

31-Anglo Water 1 beter
Die bestuurder ingenieurswese van Anglo se Tumela myn op Amandelbult, mnr Rossouw Jooste, oorhandig met ‘n handskud die laaste fase van die projek om water aan Thabazimbi te verskaf, aan die burgemeester, raadslid Patricia Mosito. Hierdie fase het die opgradering van vier boorgate op die eiendom van Anglo aangrensend aan die Krokodilrivier behels. Die boorgate is bestaande boorgate wat Thabazimbi voorheen van water voorsien het. Die gemeenskap is betrek by die projek deur die Belastingbetalersvereniging wat saam met UASA se hulp, Anglo genader het vir die vervanging van die transformators wat deur koperdiewe gavandaliseer is en die installering van nuwe boorgatpompe. Privaat kontrakteurs het ook hulle deel bygedra om die boorgate te beveilig. Hier was Lakota betrokke om veiligheidsomheinings om die boorgate op te rig om verdere koper- en kabeldiefstal te bekamp. ‘n Moniteringstelsel is ook geïnstalleer wat Anglo sekuriteit onmiddellik in kennis stel indien daar aan enige van die toerusting gepeuter word. Met ‘n reaksietyd van agt minute is die kanse goed dat die koperdiewe op die toneel betrap sal word voordat hulle enige skade kan aanrig.