Gemeenskappe maak self dorpe reg; raadslede en munisipale werkers soek verhogings

AfriForum_logo
AfriForum het sy 125 takke regoor Suid-Afrika opdrag gegee om die finale salarisverhogings van raadslede en munisipale werkers, soos vervat in die goedgekeurde munisipale begrotings, met ’n valkoog dop te hou, sodat munisipaliteite wat nie presteer nie, nie beloon word nie.
Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse plaaslikeregeringsvereniging versoek het dat daar geen onderskeid tussen tydelike en permanente raadslede moet wees nie en dat alle raadslede R1,3 miljoen per jaar moet verdien, dieselfde as parlementslede. Munisipale werkers wil ook aanspraak maak op ’n verhoging van 11%, wat aansienlik hoër as inflasie is.
“Die koste om ’n wanfunksionele regering te finansier plaas reeds ’n las op belastingbetalers se skouers. Gemeenskappe regoor Suid-Afrika word genoodsaak om self aksie te neem en probleme in hul dorpe te takel waaronder die herstel en vervanging van stukkende straatligte en kragpale, die herstel van slaggate, vervanging van waterpompe en die skoonmaak van besoedelde riviere. Nou word daar boonop verwag dat belastingsbetalers moet opdok vir buitensporige salarisverhogings. Dit werk nie so nie,” sê Ivan Herselman, AfriForum se woordvoerder vir plaaslikeregeringsake.
“AfriForum voel inteendeel dat salarisse verminder moet word sodat persone wat aansoek doen vir munisipale poste en om op die raad te dien, dit vir die vooruitgang van die gemeenskap sal doen en nie bloot vir finansiële gewin nie.”
AfriForum erken dat daar raadslede en munisipale werkers is wat hul beste doen, maar wie se goeie bydraes deur wanadministrasie en die afwesigheid van politieke wil, geen vrugte afwerp nie. Buitensporige salarisse sal ook met die LUR vir plaaslike regering en finansies opgeneem word.