Negatiewiteit verander niks

comment
Na al die negatiewe kommentaar op Thaba Whats Happening na Kwêla se besoek die vorige week asook die mense wat die afgelope naweek uiters afbrekend persoonlik geraak het teenoor ‘n lid van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit wat inligting aangaande die dorp op die sosiale media te plaas, voel ‘n mens daar is elemente wat voel hulle is die enigstes in die hele Suid-Afrika wat gebuk gaan onder wanadministrasie en swak dienslewering. Besef gbruikers van facebook dat hy dit op eie inisiatief neem om die inwoners ingelig te hou. By meeste munisipaliteite kry jy nie so iets nie. Die water en ligte gaan af sonder enige vooraf waarskuwing vanaf die munisipaliteit se kant.
Skrik asseblief wakker. Daar is geen munisipaliteit in die hele Limpopo provinsie wat ‘n skoon oudit op hulle begroting gekry het nie. Limpopo se munisipaliteite vergelyk ten opsigte van korrupsie en swak dienslewering met die swakste munisipaliteite regoor die hele land. Sit eerder skouer aan die wiel en raak betrokke om sake reg te stel, instede daarvan om jou gebrek aan sosiale media-etiket, soos op facebook bladsye, aan die hele wêreld te vertoon. Gaan stem met die volgende verkiesing, dit kan nie genoeg herhaal word nie.
Dit gaan oor die dorp en nie die munisipaliteit nie. Vir solank jy vasgenael is aan jou facebook en nie gaan stem nie sal die situasie onveranderd bly. Dit is die inwoners van die dorp wat dit ‘n goeie dorp maak om in te woon. Dit is ‘n gevoel wat jy het oor die omgewing en die plaaslike natuurskoon het, wat jy nie byvoorbeeld aan die Rand sal kry nie. Daar kyk jy heeldag teen mynhope op die hoëveld se vlaktes vas.
Dit is die hoop op samewerking by die stembus om al hierdie onbevoegdhede van munisipaliteite deur jou stem uit te wis. Dit is die gesindheid van mense wat wel ‘n verskil wil maak. Beslis nie die mense wat op Kumba se rug wil ry as hulle oor die Cultural Village of die R28 miljoen wat bestee is aan die opgradering van die watertoevoer na die dorp, kla nie. Dit terwyl almal weet dat dit minder as hierdie bedrag sou neem om alles reg te kry indien dit reg deur bevoegde personeel op bevoegde kontrakteurs bestee is nie. Buitendien sou dit in die verwagte tydsduur herstel gewees het.
Dit hang ook nie af van wat se besluit Thabazimbi sou neem oor wat die toekomspaadjie van Thabazimbi saam met Kumba sou behels nie. Om te kla oor watervoorsiening en alles wat die Thabazimbi Munisipaliteit probeer aanvang om die plaaslike belastingbetaler nog meer te besteel nie, gaan nie die probleem oplos nie.
Hierdie kras stem wat jy nou op sosiale media die wêreld instuur gaan niks verander nie. Al waar jou stem iets beteken is by die stembus. Ongelukkig verkies die mense wat oor alles kla, om nie te gaan stem nie met die verskoning dat hulle stem geen invloed op die uitslag gaan hê nie. Daar is baie ander inwoners van hierdie dorp wat in Regorogile bly wat reeds jare lank verkies om nie te gaan stem nie.
Jou wegbly-stem verseker dat al die dorpe in al die ANC beheerde munisipaliteite opgeskeep sit met ‘n meerderheid van onbevoegde en korrupte amptenare en raadslede, almal ANC kaders, wat steeds die volgende paar jaar in hul duur motors gaan ry en in spogwonings bly. Laasgenoemde sluit ook die raadslede in wat verkies om ekstra geld te maak deur hul spogwonings te verhuur en in ‘n plakkershut te gaan bly; ongelukkig verwys dit na die (geen) opheffing in lewenstyl van die agtergeblewendes nie.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur