LIMPOPO GROOT SKOLE FINAAL EN UITSPELE

HFM se eerste rugbyspan
HFM se eerste rugbyspan

THABAZIMBI – Frikkie Meyer het die voorreg gehad om die finaal en uitspele van die groot skole kompetisie hier tuis aan te bied. Die skole betrokke in hierdie liga is Ben Vorster en Pietersburg Hoërskool (verteenwoordig die Noordsirkel) en ook Frikkie Meyer en Tom Naudé (verteenwoordig Suidsirkel). Daar is geen ander skole in ‘n groter liga (makro skole) in Limpopo nie en daarom kan hierdie skole gereken word as die rugbykrag in die provinsie.
Die finaal van die Tweedes, Derdes en B-spanne is Saterdag gespeel en PHS het met die louere weggestap by die senior spanne, terwyl Ben Vorster die kompetisie in die junior groepe gewen het. Die uitspele van die Eerstes en A-spanne om te bepaal wie in die finaal van die provinsie op Saterdag 25 Julie teen mekaar uitdraf het ook plaasgevind. Die o/14A-span was bitter ongelukkig om te verloor op ‘n uittel beslissing nadat hulle gelykop teen Ben Vorster eindig (15 punte elk). Die uittelsisteem bepaal dat indien spanne gelykop eindig, die span met die meeste drieë wen. Indien gelyk, wen die span wat eerste ‘n drie gedruk het – in dié geval was dit Ben Vorster. Die o/15A-span het skitterende rugby gespeel en wen die wedstryd teen PHS met 17 -0. Hul sal in die finaal van die provinsie weer teen Ben Vorster te staan kom. Die o/16A’s (verloor 22 – 10 teen PHS)en die Eerstes (verloor 39 – 5 teen Ben Vorster) kon ongelukkig nie hul wedstryde wen nie en val dus uit.
‘n Besondere woord van dank aan die insette en borgskappe van Northam Toyota en Northmec Case Thabazimbi om hierdie dag besonders te maak. Dank ook aan elke ouer en instansie wat vanjaar weer by Frikkie Meyer se rugby betrokke was – op welke wyse ook al.