Afrika onaantasbaar

africa-topographic
Dit raak al hoe meer duidelik dat Afrika-leiers hulle as onaantasbaar voorhou met geen verandwoording teenoor hulle burgers, hul opposisie asook buurlande nie.
Die beste voorbeeld hiervan is die optrede van president Omar Al-Basjir van Soedan oor wie se hoof ‘n swaard hang van ongekende skending van menseregte en volksmoord. Dit, nadat hy hoofsaaklik nie-Arabiese stamgroepe wat vroeër gerebelleer het, geïdentifiseer het en sedertdien word hulle deur die Soedanse regering se wrede “teeninsurgensieprogram” geteiken. Volgens die VN se hoëkommissariaat (UNHCR) benodig 6,9 miljoen mense in Soedan humanitêre hulp.
Alhoewel ramings verskil, is dit duidelik dat sedert die konflik in 2003 begin het, bykans halfmiljoen mense weens geweld of gevolge daarvan dood is, en die getalle styg steeds.
Al-Basjir het verlede week op OR Tambo geland om die beraad van die Afrika Unie in Santon by te woon. Sondagaand is sy vliegtuig na Watrekloof lugmagbasis verskuif vanwaar hy blykbaar land uit is. Spesiale magtiging moet verleen word aan buitelandse vliegtuie, al is dit dié van ‘n besoekende staatshoof. Weereens, nes in die geval van die Gupta-straler wat bruilofsgaste oppad na Sun City op Waterkloof Lughawe afgelaai het en weer daarvandaan uitgevlieg het.
Die Suid-Afrikaanse regering moes in terme van ‘n beslissing van die Wêreldhof, Al-Basjir gearresteer en aan die Internasionale Strafhof oorhandig word. Dit het nie gebeur nie en die regering weier ook om enige vra aangaande die voorval te beantwoord.
Uit Soedan is berig dat gedurende die tyd wat ‘n hofbevel uitgereik is, totdat Al-Basjir terug in sy land was, is sowat 250 Suid-Afrikaanse soldate wat in Soedan deur die VN ontplooi is, basies as gyselaars aangehou en kon hulle nie beweeg uit die gebied waarin hulle ontplooi is nie, vanweë Soedannese soldate wat hulle omsingel het.
Volgens Beeld (Woensdag 17 Junie) het President Robert Mugabe van Zimbabwe Maandagaand by die beraad aan die media gesê dat pres Jacob Zuma het die AU persoonlik die versekering gegee dat Al-Basjir nie gearresteer sal word nie.
As dit die waarheid is, dui dit daarop dat Suid-Afrika se regering hom nie steur aan internasionale ooreenkomste waaraan hy homself onderwerp het nie.
As ‘n volksmoordenaar skotvry kan wegkom, wat is die toekoms van wetsgehoorsame burgers wat dié tipe van regering aan bewind het. Is dit die vertoon van mag- en hebsug wat Afrika lande in ‘n maalkolk laat beland waaruit hulle nie kan wegkom nie. Solank dit die geval is sal Afrika se derde-wêreldstatus behou, nog laer as die status van ‘n Piesangrepubliek, en is daar geen hoop op die verligting van armoede en die opheffing van die bevolking nie.
2,5 miljoen mense is reeds in Darfoer in Soedan ontwrig en vlug mense uit die land uit. Waarheen gaan ons Suid-Afrikaanse burgers vlug as die regering besluit om diegene wat hulle as vreemdelinge ag te ontwortel en die land uitjaag? Hierdie land behoort aan al die ware burgers van Suid-Afrika en is nie maar net ‘n deel van Afrika wie se grense wa-wyd oopstaan vir enige ander land op die kontinent nie.