Pretoria se ou straatname moet weer vertoon word

afrikaans2
AfriForum het die afgelope week nóg ’n hofoorwinning in die uitgerekte stryd ter behoud van geskiedkundige straatname in Pretoria, behaal. Ingevolge die bevel is die Tshwane-metroraad nou verplig om weer die ou straatname wat hulle verander het, saam met die nuwe name te vertoon.
’n Volbank van drie regters van die Noord-Gautengse hooggeregshof het die Tshwane-metroraad se appèl teen ’n vroeër hofbevel, dat die raad die ou straatname saam met die nuwes moet behou, hangende die afhandeling van ? hersieningsaksie deur AfriForum, met koste van die hand gewys.
Die aanvanklike bevel wat op 19 April 2013 deur regter Bill Prinsloo verleen is, het bepaal dat die ou name binne 60 dae teruggesit moet word. Die name moet dus teen 1 Augustus vanjaar regoor die hoofstad teruggesit word.
Werner Human, AfriForum se regsverteenwoordiger, sê vandag se uitspraak is nie net ’n oorwinning vir AfriForum nie, maar vir almal wat gekant is teen die kulturele vandalisme wat die Tshwane-metroraad gepleeg het deur spesifiek straatname met ’n besondere kultuur-historiese waarde vir Afrikaners en ander minderhede, te teiken in die naamsveranderingsproses.
Human het daarop gewys dat die raad kwaadwillig opgetree het deur destyds binne ? week al die ou straatnaambordjies te verwyder, nadat hulle verneem het dat AfriForum ’n bevel wou kry om te verseker dat die ou naamborde behou het.
“Dit is daarom gepas dat die hof ’n bestraffende kostebevel teen die metroraad gegee het. AfriForum glo die metroraad moet wys dat hulle die ou borde met dieselfde spoed kan terugsit, as waarmee hulle dit verwyder het,” het Human gesê.