Frikkies Ondersteun Afrikaans 90

afrikaans2
THABAZIMBI – Hoërskool Frikkie Meyer se Afrikaansdepartement het besluit om as deel van die feesvieringe rondom Afrikaans 90 deel te neem aan die Borg-‘n-woord-veldtog van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).
Op 8 Mei 1925 is ‘n belangrike dokument onderteken wat bepaal het dat Afrikaans ‘n amptelike taal van Suid-Afrika geword het. Hierdie status word reeds 90 jaar lank gehandhaaf. Vir die voortbestaan van ‘n taal is dit noodsaaklik dat sy woordeskat behoorlik opgeteken en geboekstaaf word. Dit is die taak van die redaksie van die WAT. Om die taak voort te sit word fondse dringend benodig.
Om die nodige fondse in te samel om die woord te borg, is ‘n kompetisie by HFM gehou waar leerders vir woorde kon stem. Die vyf woorde wat tot die eindronde deurgedring het, was talentvol (graad 8’s); congrazia (graad 9’s); kakofonie (graad 10’s); harlaboerla (graad 11’s) en onderneem (graad 12’s). Na ‘n titaniese stryd tussen veral die graadtiens en –elfs het harlaboerla as wenner uit die stryd getree.
Harlaboerla beteken ‘n groot lawaai. Dit is kenmerkend van die Frikkies dat hulle by sport- en kultuurgeleenthede met so ‘n groot lawaai aankom dat almal van hulle bewus is en hulle hul goeie gees beny. Aangesien daar amper genoeg geld ingesamel is om twee woorde te borg, het die personeel besluit om die woord onderneem finansieel te ondersteun, want dit is immers die leuse van die skool.
Hierdie twee woorde behoort dus nou eksklusief aan HFM en die matrieks van 2015 en niemand anders mag dit borg nie.
Dr WF Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, het die skool gelukgewens met die pragtige inisiatief in belang van Afrikaans en die WAT. Volgens hom is dit absoluut wonderlik dat die leerders soveel geesdrif vir Afrikaans het.
Frikkies het dus met groot harlaboerla bewys dat hulle omgee vir Afrikaans!