9-jarige help met bekamping van renosterstropery

Alyssa saam met die parkhoof van Marakele Nasionale Park, mnr Johan Taljaard (links op foto), een van die snuffelhonde en twee werknemers van die firma wat die honde oplei en wat die honde kom demonstreer en oorhandig het.
Alyssa saam met die parkhoof van Marakele Nasionale Park, mnr Johan Taljaard (links op foto), een van die snuffelhonde en twee werknemers van die firma wat die honde oplei en wat die honde kom demonstreer en oorhandig het.

THABAZIMBI – Die gemeenskap se betrokkenheid om die renosterspesie van uitwissing te red te midde van die lafhartige stropery van hierdie diere ter wille van hul horings, het Saterdag ‘n dieper betekenis gekry toe ‘n 9-jarige dogtertjie ‘n groot skenking aan die Ere Veldwagters van SANParks gedoen het.
Alyssa Carter was maar ses en ‘n half toe hulle van bedreigde spesies op skool geleer het. Dit het haar so aangegryp om die renosters te help bewaar dat sy haar ouers oortuig het om betrokke te raak om geld vir die bewaring van renosters in te samel.
Nou, twee en ‘n half jaar later, het sy bykans R300 000 vir die bewaring van renosters ingesamel. Meer as R130 000 is nou aangewend om twee opgeleide spoorsnyhonde te bekom. Hierdie honde is Saterdag 23 Mei aan die Ere Veldwagters van Waterberg streek, wat Marakele Nasionale Park insluit, by die opleidingsfasiliteit binne die Marakele Nasionale Park, oorhandig.
Hierdie honde sal binne die park aangewend word vir die opsporing en uitsnuffel van renosterstropers.
Alyssa het ‘n prentjie van ‘n renoster geteken en hierdie embleem word gebruik op lekkergoed, suigstokkies en koekies wat sy by die skool aan medeskoliere verkoop het. Dit het uitgebrei, sodanig dat haar ouers, Brian en Natalie Carter, haar bystaan om die lekkergoed en koekies te maak en te help verkoop by bazaars en ander afsetpunte.
Sy het reeds ‘n paar toekennings van onder andere SANParks ontvang en ‘n paar berigte oor haar rol in die bekamping van renosterstropery is ook al in koerante en tydskrifte gepubliseer.
Sy het haar eie webblad naamlik www.savetherhinos.co.za waar jy haar hele storie kan lees, vandat sy met die program in 2013 begin het tot waar sy nou trek. Alyssa het ook haar eie e-posadres – info@savetherhino.co.za. Sy het ook ‘n skakel na die Ere Velwagters se webblad naamlik www.sanparksvolunteers.org/alyssa-carter. Alle fondse wat ingesamel word, word aan die SANParks se Ere Veldwagters geskenk.