Kar vlieg sonder vlerke

Al wat oorgebly het van Thabazimbi se vreemdelinge vlieënde voorwerp na ‘n mislukte poging om oor HFM se netbal- en hokkiebane te vlieg.
Al wat oorgebly het van Thabazimbi se vreemdelinge vlieënde voorwerp na ‘n mislukte poging om oor HFM se netbal- en hokkiebane te vlieg.

THABAZIMBI – Hokkiespelers het verbaas toegekyk toe ‘n blou karretjie deur die heining aan die onderkant van die personeelparkeerarea van HFM bars, deur die lug vlieg en op die netbalbane net voor hulle te lande gekom het.
Die ongelooflike skouspel het hom Vrydag 15 Mei op die terrein van Hoërskool Frikkie Meyer afgespeel net voor die skoolklok vir die einde van die dag se skool gelui het. As dit later was, terwyl die kinders die skoolterrein verlaat, sou daar beslis noodlottige ongevalle gewees het
Die motor, wat teen ‘n hoë spoed teen Tambotiestraat afgery het, kon nie betyds by 10de Laan afdraai nie. Uit latere ondersoeke het dit geblyk dat die bestuurder, ‘n Pakistanse burger, nie oor ‘n bestuurslisensie beskik het nie en dat die motorvoertuig ook nie gelisensieer was nie en ook nie nommerplate gehad het nie. Duidelik sou dit ook nie ‘n padwaardigheidstoets slaag nie want dit het oor geen werkende remme of handrem beskik nie.
Toe die bestuurder blykbaar sien dat hy te vinnig ry om te draai het hy maar eenvoudig reguit aangehou deur die hoofhek van HFM, deur die afdakparkering en deur die sekerheidsomheinig. Die lamppaal wat voor hom gestaan het, het hy net-net gemis. Blykbaar was hy bang vir die afgrond voor hom en het probeer uitswaai, eerder na die bome se kant. Ongelukkig was dit te laat want ‘n vlieënde kar werk anders as ‘n vliegtuig as jy eers in die lug is, en het hy die oor die trappe gevlieg en in plaas van die bome, die muurtjie by die ou tennisbane getref wat hom op die netbalbane laat beland het. Daar het hy tot stilstand gekom met vier pap wiele.
Nie een van die insittendes, almal afkomstig van Afghanistan, is beseer nie. Een van die insittendes het weggehardloop en die ander een, wat net een arm het, was blykbaar een van die teikens van die onlangse xenophobiese aanvalle op uitlander winkels en eienaars. Die bestuurder, wat oor geen bestuurderslisensie, identiteitsboekie, paspoort. of werkspermit beskik het nie, is geboei vanaf die toneel verwyder.