Lekker kuier by potjies

Die Cimarron Iron Clan, wenners van die kompetisie met hulle rooibokribbetjie ontvang hulle prys. Op die foto is Gordon, Henriette, Henk en Wiele.
Die Cimarron Iron Clan, wenners van die kompetisie met hulle rooibokribbetjie ontvang hulle prys. Op die foto is Gordon, Henriette, Henk en Wiele.

THABAZIMBI – Tydens die Gholfdag wat deur Wildlife 24 op Werkersdag, wat Vrydag 1 Mei, by die Thabazimbi Gholfklub as deel van Ambulansdag aangebied is, was een van die gesellige kuierplekke, die manne en vrou wat hulle hand aan die potjies geslaan het.
Twee van Thabazimbi se Bikers klubs en hulle gesinne het die manne en vroue van Koolstoof aangevat. Die gees was baie gesellig, ook tussen die deelnemende spanne is daar lekker gekuier. Wat is ‘n pot dan nou sonder kuier?
Die Roadhogs het omtrent hulle hele klub saamgesleep waar almal vir Charles, Rika, Frik en Johan aangepor het met hulle vark-en-skaapskenkelpot – ‘n laaang naam vir ‘n pot wat hulle maar in twee identiese potte gedeel het, elk met sy eie vark en skaap saamgegooi.
Jacques en Laurie saam met Johan en Odette van Koolstoof Restaurant het gewikkel aan hulle beesstertpot terwyl die Cimarron Iron Clan die beoordelaars ingewag het met ‘n amperse rieldans om die potte en skreeuende bikes, toe hulle opdaag om die rooibokribbetjiepot te proe.
Die beoordelaars het ook maar so ‘n bietjie van die reëls van die kompetisie afgewyk en so ‘n bietjie langer saam met die potte gekuier, een van die belangrikste reëls waar ‘n potjie vorm aanneem, om seker te maak als is gaar.
Al wat gesê kan word is dat die rieldans van die dames van Cimarron Iron Clad dalk ‘n vervroegde betowering op die beoordelaars gehad het, of was dit dalk daardie vloeibare nagereg? Niemand sal weet nie.
Maak nie saak wat die uitkoms was nie. Almal het lekker gekuier en saam geëet.