TAR leer kinders aangaande troeteldier-versorging

Dansleerlinge van die Dansstudio met die kos wat hulle vir Tar ingesamel het en so ‘n paar van die klein wollige woelwaters.
Dansleerlinge van die Dansstudio met die kos wat hulle vir Tar ingesamel het en so ‘n paar van die klein wollige woelwaters.

Annelie en Tania van TAR het op 24 Maart by die dansstudio se kinders opgedaag om die dansertjies in te lig oor hoe ‘n troeteldier versorg moet word.
Die kinders het gehoor dat honde en katte elkeen sy spesifieke kos nodig het. Bene is baie nadelig vir hulle, aangesien dit in hulle kele kan vassit.
Siek diertjies moet behandeling by ‘n veearts kry en nie sommer met allerhande medisyne bedoel vir menslike gebruik gedokter word nie.
‘n Belangrike stukkie inligting wat die kinders gekry het, is dat dit absoluut belangrik is dat ons troeteldiere gesteriliseer moet word. Daar is alreeds te veel weeskinders. Dit is ons, as mense, se verantwoordelikheid om toe te sien dat daar nie onbeplande werpsels honde en katte is wat dan moet base kry nie.
Aangesien dit nou weer koud word, is die kinders ook daarop gewys dat honde en katte ‘n warm slaapplekkie moet hê. Dit is slim om ‘n groot boks onder jou dier se kombers te sit, want dit hou die koue van die grond af weg.
Baie dankie aan die dansstudio se kinders vir die kos wat hulle ingesamel het vir TAR se ‘weeskinders’. Danksy julle kan die mense van TAR nou weer rustig slaap, omdat hulle vir nog ‘n rukkie kos het!