Nepal skud tot in Thabazimbi

Wilmien van der Merwe, een van die Suid-Afrikaners wat op Everest vasgekeer is ná die aardbewing in Nepal, tydens die tog by die piek van Dingboche Ri, 5 077m bo seespieël. Foto: Facebook
Wilmien van der Merwe, een van die Suid-Afrikaners wat op Everest vasgekeer is ná die aardbewing in Nepal, tydens die tog by die piek van Dingboche Ri, 5 077m bo seespieël. Foto: Facebook

Deur Susan Cilliers – Netwerk 24

NEPAL – Rondom hulle lyk dit soos die “oordeelsdag”, maar ’n groep van vyf Suid-Afrikaanse stappers is ongedeerd met genoeg kos en brandstof vir ’n maand waar hulle op berg Everest vasgekeer is na die verwoestende aardbewing wat Nepal getref het.
Wilmien van der Merwe (33), een van die vyf Suid-Afrikaners, kon haar familie in Zeerust, Noordwes, Saterdag per satellietfoon met dié nuus gerusstel. “Sy het gevra ons moet kalm bly en nie bekommerd wees nie,” het Hettie van der Merwe, Wilmien se ma, Maandagmiddag gesê. Wilmien is ’n geoloog van Thabazimbi en het op 27 Maart na Nepal vertrek om Everest te gaan klim.
Hettie en Manie, Wilmien se pa, is daagliks per SMS met haar in verbinding. Wilmien en die res van die stapspan sal nou vier dae wag om te kyk of die sneeustorings en bewings stabiliseer, voordat hulle gaan besluit of hulle die tog na die piek gaan voltooi.
Hulle sou einde Mei na Suid-Afrika terugkeer.
“Ons sal bly wees as hulle die tog kan voltooi,” het Hettie van der Merwe gesê.
Die Everest-klimtog is een van sewe bergpieke wat Van der Merwe en nog Suid-Afrikaanse avonturiers as deel van die Peaks for Kidz-uitdaging uitklim.
Van der Merwe pak Everest aan ten bate van Neo Children’s Fund, NG Welsyn in Zeerust se kinderfonds, en die Spitskop Special Needs School in Thabazimbi.
Dit sou haar en haar span sowat 35 dae neem om tot by Everest se piek te kom, ?het Van der Merwe voor haar vertrek gesê.
Sy het reeds twee jaar gelede ’n strawwe oefenprogram begin volg om voor te berei vir die staptog op Everest op die grens tussen Nepal en China. “Ek is verbasend kalm en baie opgewonde, maar altyd versigtig,” het sy toe gesê.
Lesers kan dophou hoe dit met Van der Merwe en die ander stappers en haar span gaan op die Facebook-bladsy Peaks for Kidz en op die blog seanwisedale.com.