Toeriste-vriendelike omgewing

restaurant-clipart-clip-art-eating-695752
Synde een van die min restaurante wat nie ‘n franchise is nie, was Dewside Restaurant en Brouery wel oop op Vrydag, die vakansiedag wat die Paasnaweek ingelei, met nog ‘n week daarna wat besoekers van buite steeds in hierdie wêreld met vakansie is.
Dan neem ons nie die dagbesoekers wat sover as Pretoria en Hartbeespoortdam wat net vir ‘n dag uitgery het om die Bosveld te ervaar nie, in ag nie. Die dryfveer: As lede van die Hoggs van Harties besoek hulle soveel as moontlik van die Craft Brouerye, waarvan Dewside een is, in hulle gebied. Toevallig het nog ‘n paartjie van dieselfde Hoggs klub saam met kennisse in Thabazimbi Dewside besoek. Beide paartjies se verbasing was ewe groot om op Thabazimbi saam te kuier met die Craft bier wat plaaslik gebrou word sonder dat hulle met mekaar daaroor gekommunikeer het.
Ongelukkig was daar ‘n probleem. Laasgenoemde paartjie wou oorbly en Marakele die volgende dag besoek. Die meeste gastehuise was toe vir die Paasnaweek. Hoekom? Omdat die meeste gastehuise nie ingerig is vir toeriste nie. Gastehuise het losieshuise geword vir mynkontrakteurs, en aan die einde van die week waarin die eienaars van die gastehuis moes bontstaan dat hierdie kontrakteurs gelukkig gehou moet word met ontbyt, broodjies vir middagete en ‘n volle aandete is hulle moeg en soek ‘n breuk elke naweek.
Vat jou breuk eerder deur die week en vra jou oorslaapgas gedurende die week dieselfde tarief asof daar twee persone per kamer is. Jy maak jou geld in die week met minder loseerders om voor te sorg. Oor die naweke kan jy toeriste akkommodeer en ‘n hoër besetting per kamer kry. Hierdeur kry jou besoekers die geleentheid om deur jou meer van die omgewing te leer. Kuier saam met hulle en laat hulle welkom voel. Jy gaan beslis baie meer kan ontspan deur nie bont te staan om drie maaltye elke dag voor te berei nie, dit is nou indien die plaaslike restaurante in privaat besit meer vir die toeriste kan bied as net bloot niks.
Pas jou spyskaart aan vir vinnige etes wat nie proe soos wegneem etes nie. Die besoekers ken al die franchises en soek iets unieks by die onafhanklike plaaslike eetplekke.
As die besluit geneem is, soos wat vele van die interessante restaurante in die Thabazimbi-Marakele omgewing besluit het om te doen, naamlik om oor die Paasnaweek hul deure toe te maak, bevraagteken mens die rol van plaaslike besighede in die toerismebedryf, veral as die toeriste van buite op Thabazimbi en omgewing toesak.
Moet dus nie verbaas wees as een of ander franchise restaurant binne Marakele Nasionale Park open nie. Hou die besoekers eerder buite die hekke vir hul uiteetplesier sodat hulle eerder later die aand, agter die hekke, hul eie rustige braai kan geniet terwyl die sterre helder aan die hemelruim skitter.
Volgens dr Roelf Botha, ‘n ekonomiese raadgewer by PwC, het die oorsese toeriste aan Suid-Afrika vanaf ‘n groei van 15,2% in 2012 geval met 13%. Opruiende toesprake deur vakbondleiers wat lei tot geweld tydens stakings, aanrading en beskadiging van eiendom, gekombineer met die feit dat die regering buitelandse eienaarskap van eiendom wil stop asook die nepotisme, onbevoegdheid, kaderontplooiing, diefstal en korrupsie waarmee elke plaaslike owerheid net hulself in ag neem, jaag toeriste weg.
Plaaslike toerisme kan slegs bevorder word as toeriste vanuit die gemeenskap en sentra soos Gauteng betrek kan word. Bied hulle iets spesiaal aan waarby daar ook vir die plaaslike inwoners voorsiening gemaak word. Plaaslik is ‘n mark wat betrek moet word aangesien die potensiaal daar is vir die plaaslike inwoners om by die wyer toerisme aktiwiteite betrokke te raak.
Die grootste faktor is steeds hoe jy jou besigheid bemark. Is jou kliënte plaaslik of nie? Is jou mark diegene wat advertensieblaadjies lees of die wat die plaaslike koerant koop as hulle stop om petrol in te gooi of inkopies in een van die besigheidssentrums doen?
As jy jou besigheid sluit gedurende publieke vakansies, of sommer ‘n langnaweek daarvan maak, is jou mark duidelik plaaslike en sit jy nie saam om dieselfde tafel as diegene wat Thabazimbi en omgewing as toeristebestemming vir mense van buite die gebied wil bemark nie.
As jy die toerisme mark betree, hetsy as eienaar van ‘n gastehuis, Lodge of enige ander toeriste aantreklikheid soos ‘n nutswinkel, stalletjie, restaurant of wat ookal, kyk na die breër prentjie en ontvang die toeriste van buite met ‘n groot glimlag, juis op daardie dae wat jy normaalweg jou deure sou toemaak.