French Toast by die KunsteGrot

THABAZIMBI – Meimaand is dit weer fliektyd by die KunsteGrot op Thabazimbi met “French Toast” wat op 1 en 2 Mei op die groot skerm vertoon gaan word.
Kaartjies beloop R50 per persoon en pensioenarisse kan dit gratis bywoon.
Die filmvertonings begin weer posvat onder die inwoners en is ‘n heel ander ondervinding as om dit op die kassie te kyk. Die klank is beter en die grootskerm trek jou behoorlik in die beeld op die doek in., soos bewys met die afgelope twee vertonings van “Mooirivier” en verlede Vrydag se vertoning van “Knysna” een van die nuutste Afrikaanse fliekvrystellings.
French Toast handel oor die fotograaf Lise le Roux, wat saam met haar pa op ’n wynplaas naby Stellenbosch, Suid-Afrika woon. Lise se ma, wat lank gelede oorlede is, het as simbool van haar nagedagtenis ’n geheime familieresep vir Franse roosterbrood (French toast) nagelaat. Op ’n reënerige dag ontdek Lise haar ma se ou dagboek en vind tot haar verbasing uit dat sy ’n broer of suster iewers in Frankryk het.
Ondanks die feit dat Theo, haar pa se regterhandwynmaker, op die punt staan om haar te vra om te trou, besluit Lise om na Parys te vertrek op soek na haar broer of suster en om hopelik ’n stukkie waarheid oor haar ma uit te vind.
In Parys ontmoet Lise ’n Franse sjef, Jean-Pierre Baptiste. Jean-Pierre soek’n fotograaf vir sy nuwe kookboek. Lise stem in om die foto’s vir sy boek te neem mits hy haar help om die leidrade te volg om haar verlore broer of suster op te spoor. Soos wat hulle Parys saam verken, ontdooi Jean-Pierre se warm spontane persoonlikheid Lise se koel terughoudendheid en Lise se lewe verander in ’n palet van nuwe smake, teksture, kleure en emosies … Totdat daar skielik iets gebeur wat meebring dat Jean-Pierre verdwyn nadat hy vir Lise laat belowe het dat sy nie na hom sal soek nie.
Ontdek Lise uiteindelik die waarheid wat sy gehoop het haar sou vrymaak?
Maak maar solank ‘n aantekening vir 1 Mei en ontdek wat verder gebeur. Aangesien Vrydag 1 Mei ‘n vakansiedag is, beplan gerus jou aand sodanig dat jy na die fliek ‘n draai by Dewside Restaurant wat we loop gaan wees te maak en die aand daar verder te geniet. Dit is in elk geval oppad terug huis-toe vanaf die Kunstegrot.
13-Kunstegrot fliek Paris