TAR benodig u hande!

TBZ DierebeskermingTAR is nie-winsgewend. Hulle doel is om weggooi-diere te help. Ongelukkig is daar só baie weggee-diere, dat hulle nie altyd die weggooi-diere kan help nie.
Soos u kan dink, is dit ‘n moeilike taak om al hierdie diere te versorg. Daar word warmbrakke verkoop, blikkies by die kasregisters gesit en hulp in die vorm van kos van besighede af gekry. Vir al hierdie dinge is hulle oneindig dankbaar. Die belangrikste bydrae, wat hulle egter ‘n groot tekort aan het, is hande.
Almal hoef nie met die diere self te werk nie. As u ‘n gawe vir admin het, of organisering of geldinsameling, is hier iets vir u om te doen. Wat ook al u gawe is, stel dit tot hulle beskikking, en dra só u deel by om ons vierpotige vriende te help.
Daar is ander instansies wat ook met baie belangrike werk besig is onder kinders, bejaardes ensovoorts. Ons kan egter nie ons diere net so los om maar van honger en dors in die strate om te kom, of deur die jaagduiwels dood gery te word nie. Verdien ons diere nie ons beskerming en sorg nie? Hulle is só afhanklik van ons!
Asseblief, liewe lesers! Is u seker dat u nie eers een Saterdag ‘n maand, of een aand ‘n week kan help om die diere te help versorg nie?