Brief – Interhoër, O Interhoër!!

AtletiekEk is bly Piet Pot het die Interhoër gewen. Hulle hoof en atletiekafrigter van die afgelope 24 jaar (!!) tree af en dis ‘n goeie afskeidsgeskenk. En dit boonop op eie bodem.
En vir ander kinders (soos die Frikkies) is dit goed om partykeer te verloor. Dit bou karakter en bring mens hopelik terug na die belangrike goed in die lewe. Soos dat alles nie om wen gaan nie.
Ek lewe miskien in ‘n “fool’s paradise”, maar moet leerders nie ten minste op skool geleer word dat commitment, deelname en respek vir mekaar belangriker is as om ten alle koste te wen nie?
Die atlete (en onderwysers) wat uitgetrap is voor en tydens Interhoër wonder seker waarvoor hulle so hard werk. Die boodskap aan hulle is duidelik: Jy’s awesome solank jy vir die skool presteer. Sterkte vir diegene wat dié atlete vir volgende seisoen moet motiveer!
Ek glo daar is nog BAIE talent in die skool, dit kort net ontginning. Die kuns is om alle leerders (nie net die uitgesoekte regulars nie) te laat inkoop in ‘n benadering van “Ek sit alles in vir my skool”, in plaas daarvan om hulle te laat voel hulle is nie goed genoeg nie. Dan sou dit nie nodig wees om die atlete tot aksie te raas en blaas nie.
Hoe fantasties sou dit nie wees as een (of meer leerders) sou kon sê nie: ‘ek het my sukses te danke aan so-en-so by Hoërskool Frikkie Meyer’ OF ‘ek het myself verbeter as gevolg van die vertroue wat op skool in my gestel is’?
Ek verstaan dat daar deesdae baie druk op skole en onderwysers is en dat ‘n presterende skool groter volhoubaarheid het. Maar daar moet goed besin word oor waar ‘n skool se prioriteite lê en ek sou sê die ontwikkeling en motivering van ALLE leerders (nie net presteerders nie) is belangrik. Wie weet, miskien volg die prestasies sommer vanself?

Ouer van ‘n Atleet