Beter as niks?

bright-idea-startupsmithDit wil so voorkom asof Leon Schüssler van Economists.co.za, ‘n voormalige wenner van Sake se ekonoom van die Jaar kompetisie, ook maar die handdoek ingooi om Afrika sakeondernemings die weg te wys van hoe dinge eintlik gedoen word.
Die een ding wat hy in sy artikel in Sake Beeld van Maandag 9 Maart “10 idees wat werk kan skep” nie in ag neem nie is korrupsie – die een ding wat juis gewone sake in Afrika bedonner – en tog vir sekere mense bevorder.
Moet sê, toe ek die artikel begin lees, het ek eers na die datum op my selfoon gekyk. Dit was Maandag 9 Maart en nie 1 April nie. Dit was eers toe ek by sy punt ses kom dat ek gesien het die man is ernstig oor wat hy skryf. Hoeveel keer het ek nie in my kommentaar gesê dat dit die kleinsakesektor is wat werk skep nie. Nie die staat of die groot maatskappye nie. Ook dat hierdie entrepreneurs beloon moet word in terme van laer belasting en toegifte vir in-die-werk-opleidingpraktyke.
Om mnr Schüssler direk aan te haal: “Beloon mense wat winste genereer en werk skep. As jou huidige maatskappy ‘n goeie wins maak, groei en werk skep, kan hy aan ‘n laer belastingkoers onderheuwig wees, by voorbeeld 20% in plaas van 28%. As die firma minstens 40% van sy produkte of 25% van sy dienste uitvoer, kan die belastingskoers tot 15% verlaag word.
Op hierdie stadium is Kwêvoël besig om dit te doen, juis om plaaslike entrepreneurs geleentheid te bied om teen laer advertensietariewe die mark te betree om kopers in hul plaaslike teikengebied te bereik wat hulle nooit van tevore van bewus was nie. (beide my drukpersopperatuers is plaaslik deur myself opgelei sonder staatshulp).
Om terug te keer na Schüssler se ander tien idees. Nadat ek dit weer gelees het het ek besef dat dit is hoe dit reeds in Afrika gedoen word. Ons hier in Suid-Afrika sal maar moet inval met werkskepping vir die werkloses – soos dit in Afrika gedoen word.
Idee nommer een om sagte misdaad soos prostitusie en dwelmverkope (sagte) op die platteland te wettig sal die straatverkopers se verkope verhoog en hulle sal dan belastingpligtig wees. Die gebrek aan gesondheidskwessies en veiligheid is reeds hoog op die lys van wat reeds gebeur – niemand steur hulle daaraan nie. Hoe gaan jy iemand wat duisende rande verdien deur ‘n onwettige bedryf te omskep in een waar hy sy inkomste moet verklaar? Dit gaan nie gebeur nie – Dis die “Afrika” deel van besigheid doen, veral deur die Nigeriërs in al die klein dorpe – insluitend Thabazimbi. Buiten dat dit hoofsaaklik buitelanders is wat hierdie bedryf beheer, haal jy op hierdie manier baie mense uit die produktiewe stelsel wat verslaaf raak en naderhand begin steel en selfs moor om hul drange te bevredig.
Nommer twee om onwettige myners en stropers geleentheid te gee om hul produkte oorsee en plaaslik te bemark. Dit doen hulle reeds. Hoekom nog die staat daarby laat baat as hulle klaar ‘n goeie inkomste daaruit maak? Voeg eerder waarde toe aan renosters sodat die eienaars self die dividente van die renosterhoring oes in sy eie sak kan druk.
Nommer drie: Die taxi-bedryf is ongelukkig nie so oop so wat hy dink nie. Daar is bepaalde roetes en indien ‘n taxiopperateur sou waag om dit sonder goedkeuring te bedien, word hy summier uitgehaal. Ek stem saam dat die taxibedryf die busdienste ore aansit. Daar is byvoorbeeld geen direkte taxi (of bus)-roete vanaf Thabazimbi na Brits nie. Taxi’s kommunikeer van Thabazimbi na Northam. Daarna van Northam na Rustenburg en ten laaste vanaf Rustenburg na Brits of Gauteng. Brits is slegs 140km vanaf Thabazimbi, maar om daar per taxi uit te kom is sowat 180km.
Nommer vier stem ek volkome saam. Die staat gee plase weg en slegs verblyfreg aan almal wat voel hulle is deur die vorige bedeling te na gekom is. Gee vir hierdie mense volle eiendomsreg, titelaktes ingesluit, asook die reg om dit te verkoop aan enige koper indien dit die eienaar se besluit is.
Nommer vyf: Bou aftreeoorde vir die hele wêreld aangesien Suid-Afrika goedkoop is om in te woon teenoor die ander westerse state, en daarmee saam in punt nege sê hy: Gee opleiding aan studente van regoor Afrika in vaardighede. Hoe lank voordat ouma en oupa saam met kleinkind hulself in een van die “goedkoop” (gratis) aftreeoorde in Suid-Afrika kom vestig en sommer huisvesting vir die hele familie op die “Afrika manier” verleen. In plaas dat hulle kinders geld hier gaan spandeer gaan hulle sommer intrek.
Oor diegene wat hulle skoolloopbaan steeds nie op die veronderstelde ouderdom van 18 voltooi het nie geleentheid te bied om dit steeds te doen: Gaan jy toelaat dat jou 16–jarige seun of dogter saam in die klas sit waar 24-jaar oud wulpse dames of jagse mans sit?
Ek kan nie glo dat Mike Schüssler werklik dit bedoel deur te sê dit is beter as niks nie.
Tog. Ons is in Afrika – dalk het hy ‘n punt beet.