Dogterswemspan seëvier by vriendskaplike gala

Foto: http://www.womenshealthmag.com/files/wh6_uploads/images/train-for-swim.jpg
Foto: http://www.womenshealthmag.com/files/wh6_uploads/images/train-for-swim.jpg
THABAZIMBI – ‘n Massiewe vertoning deur die dogterswemspan van Hoërskool Frikkie Meyer het Saterdag verseker dat HFM tweede geëindig het uit die vier skole wat deelgeneem het. Die gala is in die swembad van HFM aangebied.
Hoërskool Ellisras het die byeenkoms gewen met ‘n totaal van 244 punte. (Seuns: 127; Dogters: 117). HFM was tweede met 196 punte. (Seuns: 52; Dogters: 144). In die derde plek was Hoërskool Warmbad met 161 punte. (Seuns: 115; Dogters: 46) en hulle is gevolg deur Rustenburg met ‘n totaal van 155 punte. (Seuns: 84; Dogters 71).
Anmarie Schutte (Do/16) is as die beste senior dogterswemmer (Senior Victrix Ludorum) met ‘n totaal van 29 punte aangewys. Anmarie verwerf goud in vlinder- sowel as borsslag en silwermedaljes vir wissel- , kruip- en rugslag.
Die ander swemmers van HFM wat medaljes verower het tydens die gala was Wilmien Schutte (Do/14) met goud in kruipslag en bronsmedaljes in bors- en rugslag; Matilda Jordaan (Do/15) met brons in kruip- en rugslag; Hestie Swanepoel (Do/16) met bronsmedaljes in vlinder-, kruip- en rugslag; Liandi Pienaar (Dogters Ope) met goud in wisselslag, silwer vir vlinder-, bors- en kruipslag en ‘n bronsmedalje vir rugslag; Elize Botha (Dogters Ope) met ‘n goue medalje vir rugslag en ‘n bronsmedalje vir borsslag, Rene Hall (Dogters Ope) met goud vir borsslag. Teagan Theron (So/15) kry ‘n gouemedalje vir vlinderslag, silwer vir kruipslag en brons vir bors- en rugslag. Johan Bezuidenhout (So/16) kry silwermedaljes vir bors- en rugslag en ‘n bronsmedalje vir vlinderslag.
Daar is ‘n totaal van ses nuwe badrekords opgestel. Drie van die rekords was in kruipslag (So/14 – GP du Preez van Ellisras; So/16 – Danie Geyers van Ellisras en Seuns Ope – Bert Greef van Rustenburg). Twee rekords was in rugslag (Do/15 – Cherise Mans van Ellisras, So/16 – Danie Geyser van Ellisras). Cherise Mans van Ellisras verbeter ook die Do/15 rekord vir vlinderslag