Eindeksamenvraestel mag nie drome kelder

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ‘n versoek aan alle universiteite regoor die land gerig om ook matrikulante se graad 12-Junie-eksamenpunte in ag te neem wanneer hulle vanjaar aansoek doen vir keuring vir studies in 2016.
Dié versoek volg nadat meer as 27% van die inhoud in die graad 11 fisiese wetenskappe-eindeksamenvraestel verlede jaar foutief was, met die gevolg dat leerlinge se punte in die vak asook hulle algehele gemiddeld drasties gedaal het. Sommige leerlinge het nie die vak geslaag nie weens die foute in die vraestel. Dit kan matrikulante se keuring vir veral studierigtings soos medies, veeartsenykunde, arbeidsterapie, dieetkunde en ingenieurswese kelder wanneer hulle met dié punte daarvoor aansoek doen.
“Dit is praktyk dat matrikulante hulle graad 11-eindeksamenpunte gebruik om aansoek by universiteite te doen. AfriForum het reeds verlede jaar ‘n klag by die departement van onderwys ingedien, maar nog nooit terugvoer van hulle ontvang nie,” het Carien Bloem, hoof van onderwysveldtogte by AfriForum, gesê.
AfriForum het ‘n tweede brief aan die departement gestuur wat vereis dat hulle ’n aksieplan moet opstel en bekendmaak hoe die huidige situasie reggestel gaan word en ook hoe dieselfde probleem in die toekoms voorkom gaan word.
“Verder vra ons ook dat universiteite hulle kommer teenoor die departement van onderwys sal uitspreek oor die saak asook die hantering en gevolge daarvan,” het Bloem gesê.