Nog ‘n vertoning van Mooiriver

THABAZIMBI – Na die puik opkoms by die fliek Mooirivier is daar besluit om dit weer Vrydagaand 20 Februarie te vertoon vir diegene wat dit gemis het. Daar sal net ‘n Vrydagaand vertoning wees en pensionarisse kan dan gratis kom bywoon.
Nog ‘n trefferfliek, nuut op die toneel, is Knysna wat op 20 Maart vertoon word.
Knysna is ‘n Afrikaanse romantiese komedie wat op 25 Desember landswyd oop gemaak het en draai tans nog in teaters.
Die fliek speel af in die pragtige dorp, Knysna. Met Neels van Jaarsveld in die hoofrol van Dolf Roos en Marguerite in die rol van Stephanie asook bekendes soos Armand Aucamp, Kaz McFadden, Shaleen Surtie-Richards, Terence Bridgett en Morné du Toit gaan Knysna verseker dat mense nie slegs die fliek terdeë geniet, maar dalk sommer vir ‘n tweede en selfs derde keer gaan terugkeer om dit te sien.
Die fliek handel oor Dolf – ‘n doodgewone jong man van die verkeerde kant van ‘n klein stranddorp wat verlief raak op ‘n pragtige meisie van die “Heads”, die super-ryk buurt in Knysna. Met sy simpel lewe van swembaddens skoonmaak en visvang, sal hy ‘n verhouding kan aan knoop met iemand wat gewoond is om in luuksheid te lewe en met Europese aristokrate uit te gaan?
Die draaiboek is geskryf deur Emile Hager, ‘n jong talentvolle skrywer en akteur, wat tans in Stellenbosch woon, en ook die rol van Pascal in die fliek speel. Die storie is geskep deur André Velts, wat self in Knysna groot geword het.
Toegang is R50 per persoon en beslis die moeite werd om Afrikaans hoog te hou.