Wit armes nie deel van staat se armoedeplan nie

Hoewel armoede in Suid-Afrika volgens die jongste bevindinge van Statistieke Suid-Afrika (SSA) steeds toeneem, lyk dit asof wit armes nie deel vorm van die regering se plan vir die bekamping van armoede nie.
Die verslag oor armoedevlakke in Suid-Afrika is gister bekendgestel en moet as hulpmiddel vir regeringsdepartemente en ander staatsinstansies dien om die geld wat op maatskaplike toelaes spandeer word, asook mense se toegang daartoe, te evalueer. Hoewel daar nie in dié verslag na armoedevlakke van verskillende groepe in Suid-Afrika verwys word nie, het Pali Lehohla, statistikus-generaal, reeds in September verlede jaar gesê dat daar landwyd te min armoede in wit huishoudings is om dit by statistieke oor hulpbehoewende huishoudings in te reken.
Volgens dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, leef die staat in ontkenning oor armoede in Suid-Afrika en verkies om halwe waarhede oor die omvang van armoede te verkondig omdat hulle die krisis deur ’n rasse-bril beskou. “Indien die feite rakende die bestaan van wit-armoede ontken word, kan daar mos nie voorsiening vir die bekamping van armoede onder wit mense gemaak word nie,” waarsku Brink.
“Hoe kan ? eerlike en akkurate evaluasie oor armoede in die geheel gedoen word as die regering aanhou om die swaarkry en armoede wat daar ook onder wit Suid-Afrikaners bestaan, te ontken? Die regering maak homself skuldig aan subjektiewe beskouings van armoede en baseer gevolgtrekkings op hul persoonlike sieninge en nie op feite nie. Dit is hoogtyd dat ook wit mense ingesluit word by die regering se planne om armoede teen te werk,” verduidelik Brink.
“Wit armoede is nie ’n spookgedagte of komplot nie; dit is ’n werklikheid. Ons sien dit elke dag. Hoe durf die regering aanhou om dit mis te kyk?,” vra Brink.
Helpende Hand het onlangs die Ons Mense-veldtog geloods om hulp aan behoeftige persone te bied wat nie deur die staat raakgesien word nie. ’n Video van dié veldtog is op Helpende Hand se YouTube-kanaal beskikbaar. Hierin word die publiek uitgenooi om die veldtog te ondersteun deur “Onsmense” na 38969 te SMS en sodoende R10 tot die Ons Mense-hulpfonds by te dra.