Tree terug van die berg en sien die groter prentjie

LiN Media direkteure en redakteurs wat die slypskool bygewoon het. Op die foto is voor vlnr: Francois Aucamp (Bulletin – Tzaneen), Pieter Coetzee (Kwêvoël), Helena en Jasper Raath (Noordelike Nuus – Lephalale en Potgietersrus). Agter: Anton van Zyl en Andries van Zyl (Zoutpansberger), Piet Croucamp (gasspreker) en Wikus Lee (Limpopo Mirror)
LiN Media direkteure en redakteurs wat die slypskool bygewoon het. Op die foto is voor vlnr: Francois Aucamp (Bulletin – Tzaneen), Pieter Coetzee (Kwêvoël), Helena en Jasper Raath (Noordelike Nuus – Lephalale en Potgietersrus). Agter: Anton van Zyl en Andries van Zyl (Zoutpansberger), Piet Croucamp (gasspreker) en Wikus Lee (Limpopo Mirror)

Tydens die LiN Media redakteurs slypskool wat verlede week Vrydag in Polokwane aangebied is, het Piet Croucamp lektor verbonde aan die Universiteit van Johannesburg as gasspreker opgetree en oor toekomstige verwagtinge, veral op politieke vlak, wat die inwoners van Suid-Afrika oor die volgende vyf jaar of wat kan verwag gepraat. Kwêvoël is een van 10 koerante in Limpopo wat deel is van LiN Media.
Croucamp spesialiseer in Navorsingsmetodes, die demokratisering van politieke stelsels en sy ‘eerste liefde’ politieke geweld. Hy het studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, RAU en het ‘n doktoraal verwerf aan die Universiteit van die Vrystaat, oor die oorsprong van geweld en konflik in die taxibedryf. Sy navorsing is al en word in verskeie nasionale- sowel as internasionale joernale gepubliseer.
Hy het sy praatjie begin deur te sê dat die regering eintlik bedank kan word vir regstellende aksie aangesien dit die wit mense gedwing het om entrepreneurs te word. Hierdeur het hy ‘n demografiese dividend ontvang in terme van eiendom wat in sy naam geregistreer is. Hy is goed opgelei en kon ook sorg dat sy kinders goeie onderwys kan ontvang. Sy kinders het ‘n nalatenskap wat hulle eendag sal erf.
Daarinteen het die meeste swart mense geen demografiese dividend nie. Die regering gee vir hulle eiendom maar met geen eiendomsreg daarop nie. Die kaart en transport kan nie na die nageslag oorgedra word nie, slegs verblyfreg. Daarby word plaaswerkers, asook die meeste swart mynwekers, gebore in ‘n sosiaal ekonomiese klas waarin hul voorsate plaas of mynwerkers was en hulle dieselfde paadjie gaan volg net soos hulle kinders na hulle.
Die enigste manier om hieruit te ontsnap is deur geleerdheid. Geleerdheid wat deur middel van ‘n selfoon of tablet in jou hande geplaas word. Daar is reeds skole waar al die leerwerk, vordering en finale eksaminering op hierdie manier gedoen word. Dit skakel die swak onbevoegde onderwyser uit en in plaas daarvan dat daar minder kinders in die klas is, kan een enkele goed opgeleide onderwyser ‘n groter klas hanteer want hy/sy het direkte toegang tot elke leerling se werkstuk. Programme word ook geskryf om by die leerling se tempo aan te pas deur stadiger te raak as die leerling sukkel om by te bly. Meganisasie, het hy gesê moet so vinnig as moontlik geskied, beide by boerderye en in die myne. Daar moet ontslae geraak word van die arbeidersklas. Boerderye en myne kan baie beter en ekonomies bedryf word deur masjienerie te gebruik in plaas van hande arbeid.
Die regering het egter ‘n groot rol te speel om te sorg dat hierdie werkers geskool raak. Hy het genoem dat daar reeds bewys is dat ‘n volwasse persoon binne vier jaar van Graad 1 tot matriek kan vorder. In Suid-Afrika lyk dit egter asof die staat nie die politieke wil het om die gebreke in die onderwysstelsel te takel nie.
Baie van die maatskaplike geweld in hierdie land kom wêreldwyd voor in lande met soortgelyke toestaande naamlik die van ‘n swak of afwesige staat. Hy het genoem dat groot probleme vir die ANC binne die volgende twee tot vier jaar voorlê aangesien nie hulle of hulle ondersteuners bereid is om by veranderde omstandighede aan te pas nie, soos wat die wit bevolking moes doen toe die ANC regstellende aksie in sy ergste vorm geïmplimenteer het.
Hy het verder genoem dat die wit mense in die land geneig is om hulle self vas te staar in ‘n berg. Deur bietjie terug te tree is die berg nie so groot nie en kan jy ‘n groter prentjie sien. Intussen is die kleinsakesektor, wat maar eintlik uit die wit middelklas bestaan, onder groot druk in terme van arbeidswetgewing en hoë belastings. Buiten dit is dit hierdie entrepreneurs wat ook die verantwoordelikheid van die onderwysstelsel sal moet aanvaar.
Tegnologie kan die rol van die onderwyser ‘n totale nuwe dinamika gee en terselfdertyd die swakhede in die stelsel uitskakel deurdat die beste standaarde en konsepte deur die mees ervare onderwysers en akademici oorgedra word. Hierdie onderwyser hoef nie eens in die klas te sit nie. Netso kan die leerlinge hul enige plek in die land bevind en steeds die beste onderwys ontvang.Met tegnologie kan ‘n kind in ‘n klein dorpie in KZN en ‘n kind in en van Gauteng se middelklas voorstede, dieselfde leerervaring kry, iets wat tans byna onmoontlik is.