Ewige liefde neem Boet saam

Oom Boet Pistorius wat Maandag 24 November in sy slaap oorlede is.
Oom Boet Pistorius wat Maandag 24 November in sy slaap oorlede is.

THABAZIMBI – Die lewe sonder sy geliefde Monica het uiteindelik Boet Pistorius weggeneem. Oom Boet (81) is Maandagoggend in sy huis in sy slaap oorlede.
Tannie Monica is 23 Februarie vanjaar oorlede nadat terminale kanker by haar gediagnoseer is. Oom Boet kon eenvoudig nie die verlies en die alleenheid aanvaar nie en het die wil om te lewe opgegee. Volgens sy dogter, Mariana, wat heeltyd na hom omgesien het, het hy veral die laaste drie maande net weggekwyn. Vir die afgelope maand was hy bedlêend.
Oom Boet se ouers het op die ou Yskorplaas gewoon tydens sy geboorte. Dis ook waar hy grootgeword het. Hy het later na Johannesburg verhuis waar hy sy toekomstige bruid reeds op Handelskool in Johannesburg ontmoet het.
In 1949 het hy die werk as vakleerling sweiser by die destydse Yskor aanvaar en was in diens van Iscor tot met sy aftrede.
Gedurende 1954 het Oom Boet teruggekom na sy geboorteplek en in 1955 is hy en Monica in die huwelik bevestig. Hul eersgeborene, Ferdi is op ses-jarige ouderdom oorlede.
Oom Boet sal onthou word as die groot fors boerseun wat outomaties agting afgedwing het. Daarby was hy ook ‘n fenominale jagter, met die groot vyf agter sy naam. As gevolg van sy belangstelling in jag, was hy ook baie nou betrokke by die plaaslike- en nasionale jagtersverenigings.
Hy was etlike jare gelede betrokke in ‘n ernstige motorongeluk wat steeds tot sy dood die letsels gelaat het. Die twee jaar met sy been in gips het hom egter nie gestop om verder voluit te lewe nie.
Oom Boet word oorleef deur sy drie kinders, German, Jaco en Mariana asook vier kleinkinders.
Die begrafnis is vandag, Vrydag 28 November, om 10:00 vanuit die AP Kerk Thabazimbi.