Geen bemoedigende beeld vir 2015

Op die foto is vlnr: Mnr Oostewald Van Staden, Hoof: Besigheid Standard Bank – Limpopo, Me. Tebogo Matsape, Besigheidsbestuurder – Kleinsake – Thabazimbi, Dr Walter de Wet, Standard Bank Ekonoom en Gabriel Botha, Besigheids Bestuurder: Kommersieel en Landbou – Thabazimbi.
Op die foto is vlnr: Mnr Oostewald Van Staden, Hoof: Besigheid Standard Bank – Limpopo, Me. Tebogo Matsape, Besigheidsbestuurder – Kleinsake – Thabazimbi, Dr Walter de Wet, Standard Bank Ekonoom en Gabriel Botha, Besigheids Bestuurder: Kommersieel en Landbou – Thabazimbi.

THABAZIMBI – Besighede ervaar deesdae talle probleme wat daaglikse aandag benodig. Die grootste hiervan is sekerlik kontantvloei en swak groei in die land se ekonomie. Dit was die rede dat Standard Bank besluit het om aan die einde van die jaar hulle kliënte te betrek by ‘n oggend-seminaar sodat ‘n meer realistiese oorsig gelewer kan word om vir die volgende jaar te beplan.
Dit was die inleiding van mnr Oosie Oosterlaak, Provinsiale Besigheidsbestuurder van Standard Bank, toe kliënte toegespreek is by die seminaar wat Maandagoggend by Thaba Nkwe aangebied is.
Hy het verder genoem dat politieke besluite en die vyf-maande lange mynstaking ‘n groot invloed op die besighede in Thabazimbi en omgewing gehad het. Verder het staatskontrakte opgedroog en alle kontrakteurs wat by die myne en staatswerke betrokke was moes van hulle werkers afdank en het self in hul reserwes ingedelf om te oorleef.
Banke het ook besigheidsekuriteit as gevolg hiervan verloor en word ‘n verhoging in sekuriteit voordat ‘n banklening toegestaan dus onvermydelik. Dit noop banke om te bespaar deur weg te doen met personeel wat in ‘n gebou gehuisves word. Internet sal hoofsaaklik ingespan word om alle transaksies digitaal te doen. Standard Bank beweeg ook in hierdie rigting.
Indien jy dus in die toekoms van die inbelsentrum gebruik maak sal jy een persoon kry wat al jou navrae kan beantwoord en jou van raad kan voorsien en aanbevelings doen oor hoe die bank kan help om in jou spesifieke behoefte te voorsien.
Walter de Wet, ‘n ekonoom in diens van Standard Bank het as inleiding genoem dat Suid-Afrika nie ‘n uitsondering is nie; groei is wêreldwyd traag. Vervaardiging is een van die baie belangrike sektore om die ekonomie te bevorder. Hierdie sektor is hoofsaaklik in die hande van die klein en middelslag sakesektor.
Die wêreldwye resessie in 2009 het ‘n groot rol gespeel om hierdie sektor onder groot druk te plaas. Alhoewel daar klein groei persentasiegewys verwag kan word, speel die staat die grootste rol hierin deur staatspandering. Dit is egter nie volhoubaar nie en sal die regering net belastings op die einste sektor verhoog om nog meer te kan spandeer.
Die bousektor, veral die huiskonstruksie gaan volgende jaar steeds geen groei toon nie aangesien hierdie sektor baie afhanklik is van privaat kredietverlening deur banke en ander finansieringsinstansies.
Groei in die motorvervaardigingseksie sal grootliks toegeskryf kan word in ‘n verhoogde omset vanweë prysstygings in hierdie sektor.
Die staat is steeds die grootste werkverskaffer en tensy hulle begin fokus op produktiewe aanstellings en sny op hul uitgawes gaan hulle dit nie kan volhou nie.
Suid-Afrika se grootste bron van inkomste is die uitvoer van grondstowwe soos minerale produkte. As gevolg van ‘n vertraagde groei in China se vervaardigingsektor, wat die grootste gebruiker hiervan is, sal die vraag daarna afneem en gaan pryse nog verder val.
Deur dit alles speel Eskom ook nog ‘n groot rol met sy onvermoë om volhoubare kraglewering te kan waarborg. Hierdie is een van die komponente wat beleggers wat na Suid-Afrika as poort na die res van Afrika kan lok, afskrik.
Om groei te bevorder is ‘n kapitale inspuiting in die vervaardigingsbedryf nodig om mense op te lei en hul vaardighede te verbeter, die enigste manier om iets aan die hoë werkloosheidsyfer van 25% te doen.
Daar is sprake van verhoogde BTW. Dit gaan egter die armste van arm mense die ergste tref. Belastingverhoging op individue in die hoë inkomstegroepe is ook nie haalbaar nie aangesien die segment te klein is om ‘n wesenlike verskil aan hoër inkomste vir die staat te maak.
Oosterlaak het boere die gerusstelling gegee dat banke wel in noue kontak met die regering is om planne te maak om die probleme die hoof te bied. Standard Bank wil in hierdie sektor saam met die boere groei. Hulle is selfs bereid in sekere gevalle om finansiële bystand te lewer op eiendom waar daar hangende grondeise is.
Die groot vereiste is dat die beplande projek lewensvatbaar moet wees.