Wetenskap Uitstappie na UP

44-LS TBZ Wetenskap groep
Die groepie saam met juffrou Hantie (heel regs) in die skadu van ‘n Mirage F1 vegvliegtuig.

THABAZIMBI – Laerskool Thabazimbi het 63 leerlinge op Dinsdag 21 Oktober vertrek na die Sci-Enza Wetenskapsentrum te Universiteit van Pretoria.
Daar aangekom is hulle en die onderwysers wat hulle vergesel het hartlik ontvang en dit was die begin van ‘n baie interessante en leersame dag. Die leerlinge het ‘n lesing oor klank en lig bygewoon en almal het saamgestem dat dié eksperiment uiters interessant was.
“Camera Obscura” is ‘n reuse kamera en die leerders kon binne-in die kamera klim en die hele Pretoria sien. “Wow” wat ‘n belewenis. Die serie en parallelle stroombane wat die leerlinge gebou het was net so interessant. Hulle het ook hulle eie radio’s gebou wat tot hul verbasing gewerk het en daarmee kon hulle heerlik na Radio Jakaranda luister.
Na die sessies kon die kinders self eksperimenteer en dit was die hoogtepunt vir baie van die leerlinge. Hier kon elkeen hom/haar na hartelus uitleef.
Mev Hanti Vorster neem elke jaar die 20 beste presteerders in Wetenskap van grade 5 tot 7 op hierdie uitstappie na die Universiteit.