Plaaslike seuntjie ernstig na slangbyt

THABAZIMBI – ‘n Pofadder het vir groot kommer gesorg nadat dit een van Thabazimbi se klein inwonertjies gepik het. Klein DJ Koekemoer het laatmiddag, Dinsdag 28 Oktober, naar geword, koors ontwikkel. By nadere ondersoek is bytplekke en swelling op sy regterarm en –hand opgemerk. Hy is onmiddellik Medi Clinic toe in Thabazimbi waar plaaslike dokters slangbyt geïdentifiseer het. Op daardie stadium was dit nog onbekend watse tipe slang dit was.
Die volgende oggend was dit egter duidelik dat dit ‘n pofadderbyt is wat erg sitotoksies is. Dit beteken dit val die menslike weefsel aan. Só ‘n byt kan lewensgevaarlik wees as daar nie mediese hulp is nie.
Hy is onmiddellik oorgeplaas Medi Clinic Kloofhospitaal toe waar hy sedertdien behandel word deur verskeie spesialiste onder leiding van dr van Niekerk, ‘n slangbytspesialis. DJ was onder sedasie van meet af aan en het verskeie operasies ondergaan om van die beskadigde weefsel te verwyder.
Hy het Sondagoggend vir die eerste keer wakker geword nadat die koors gebreek het en die infeksietelling laer was. Groot verligting onder baie belangstellendes het gevolg toe hy vra vir ‘n Coke en ‘n broodjie!
DJ het Dinsdag 4 November weer eens ‘n operasie ondergaan. Alhoewel dit met hom beter gaan, lê daar nog ‘n lang pad van herstel vir hom voor.