Uitstekende konsert met Jannie Moolman en Blackie Swart

Classic Blue tydens hul kuiertjie by Dewside na afloop van hul optrede in die Super KunsteGrot. Agter vlnr: Stix Swart, Jannie Moolman, Blackie Swart en Cobus Burger. Voor: Rita Volschenk (KunsteGrot) en die pianis Engeli le Roux.
Classic Blue tydens hul kuiertjie by Dewside na afloop van hul optrede in die Super KunsteGrot. Agter vlnr: Stix Swart, Jannie Moolman, Blackie Swart en Cobus Burger. Voor: Rita Volschenk (KunsteGrot) en die pianis Engeli le Roux.

THABAZIMBI – Classic Blue, die nuwe program waarin Jannie Moolman en Blackie Swart saam op die verhoog optree.
Teatergangers het verlede week Woensdag aand die geleentheid gehad om hierdie twee uiteenlopende musikante, elk met sy uiteenlopende musiek styl en gander, saam in konsert te sien optree.
Beide die musikante is reeds jare op die musiek toneel. Jannie as klassieke, of te wel opera sanger, en Blackie as een van die voorste kitaarspelers in die land, of dit nou rock, blues of sommer boereorkes is. Dit is veral Blackie met sy Blues wat ‘n skokkende verrassing was waarmee hy sy veelsydigheid weereens bewys het.
Die twee kunstenaars het hul talente saamgegooi in die Johnnie Black Band en het ‘n verskeidenheid van liedjies, beide klassiek en kontemporêr populêr soos What a Wonderful World, Torna a Surriento, O Sole Mio/It’s now or Never, On the street where you live uit My Fair Lady, Fly me to the Moon, Layla va Eric Clapton, Misty Mountain Blues en On the Beach van Chris Rea.
Jannie het ook so ‘n paar komiese gedeeltes uit sy operaloopbaan met die gehoor gedeel.
Saam met hulle op die verhoog was die tromspeler, Blackie se seun, Stix Swart, Cobus “Diksnaar” Burger op die baskitaar en die uitstekende pianis Engeli le Roux wat met haar eie styl baie tot die vermaak bygedra het.
Ongelukkig het die krag afgegaan net voor Jannie die laaste liedjie gesing het. Dit het hom egter nie afgesit nie en in die lig van ‘n selfoon of twee het hy klaargemaak. Die wind en reën na die vertoning het niemand gekeer nie en die kunstenaars is daarna by Dewside Restaurant onthaal waar hulle saam met die teatergangers gekuier het.
Hierdie vertonings is spesiaal en nie iets om te mis nie. Kyk uit vir die Ses Snare, ‘n uitmuntende groep wat voorheen reeds hier opgetree het, wat op 6 Desember weereens hul buiging in die Super KunsteGrot gaan maak.