Geen nuus welkom

Deesdae wil mens skaars na die nuus op die radio en TV luister, en as jy daarby uitkom is dit net met ‘n halwe oor, hoe korter die nuusberig, hoe beter. Almal is moeg vir die Oscars, Devani’s, Malema’s, Zuma’s en alles wat die vakbonde te sê het.
Die dagblaaie blaai jy maar net soos dieselfde storie jou dag vir dag tref. Na die bespreking wat Ontbytsake soggens aanbied oor die koerantopskrifte, weet jy klaar watter bladsye jy kan oorslaan. In ‘n paar kort sinne het hulle reeds saamgevat wat vir jou tien minute gaan neem om te lees.
Dit is hier waar die plaaslike koerant inkom. Dit is meer as net ‘n nuusblad maar gee nuus deur van dinge wat nog gaan gebeur. Dit is ‘n sosiale blad om die gemeenskap te bind in alles wat die gemeenskap, besighede en organisasies sy inwoners bied. Sodra die meeste nuus en sosiale gebeurtenisse uit die omgewing beweeg, verloor lesers belangstelling.
Geen publikasie van buite kan die sosiale aspek van die gemeenskap so weergee soos die plaaslike koerant nie. Jy leer gesigte ken en as jy by die regte geleentheid is kan jou foto ook deel uitmaak van die storie wat die koerant oor die doen en late van die gemeenskap skryf. Dit is nie net ongelukke en die Munisipaliteit wat onbevoeg is om sy werk te doen nie, wat die hoofberigte moet wees nie, alhoewel dit ‘n rol speel.
Die belangrikste faktor wat ‘n baie belangrike rol speel in die bepaling van enige besigheid se markgebied en of hy sy teikenmark bereik. Vir die uitgewer sowel as die adverteerder. Mens kry so al die indruk dat sakemanne glad nie een van die koerante wat in omloop in die dorp is lees nie. So al asof hulle net staatmaak op dit wat die advertensie-agent as waarheid vir hulle voorhou. Enigeen wat sy oë die laaste tyd oopgehou het en die publikasies gelees het, en self ondersoek ingestel het oor hul werklike oplaag en verspreiding, sal op sy rug val as hy die werklike toedrag van sake sien.
Daar is ‘n groot verskil tussen 25 000 en 5 000. Daar is ‘n groot verskil tussen publikasies wat verkoop word en die wat gratis op straathoeke uitgedeel word. Daar is ‘n verskil in leë rakke in die supermarkte en kafees waar al die publikasies uitverkoop is en die winkels en besighede se toonbanke wat vol gratis publikasies lê wat uiteindelik in die meeste gevalle in die asblik beland sodra die volgende klomp daar neergeplak word.
Ongelukkig doen baie van die instansies wat so graag hul nuus in die koerante wil hê, nie eens die moeite om te gaan lees wat die koerante daaroor berig nie. Hulle sal geskok wees om te sien hoe min moeite sekere publikasies met nuusdekking doen. Groot foto’s te plaas met min beskrywing daarby, net om ruimte op te neem. Mediaverklarings word woord vir woord net so geplaas, sonder om hulle aan die taalgebruik of foute in die verklarings te steur.
Baie besighede verloor tonne besigheid deur hulself nie van die werklike toedrag van sake te vergewis nie en so maklik deur niksseggende syfers beïndruk word, in plaas daarvan om hul teikenmark deeglik te identifiseer en die publikasie te gebruik waar jy as adverteerder hulle gaan bereik.
Om dit nie te doen nie is dieselfde as om uit te reik na die jeug deur ‘n advertensie van ‘n Rock konsert, waar drank byvoorbeeld vrylik beskikbaar is – om nie te praat van dwelmmisbruik nie, in kerklike charismatiese dagblaadjies te plaas.
Dit is jou besigheid en jou inkomste wat verlore gaan as beweerde getalle ‘n groter rol in jou besluitneming speel as die werklike stand van sake.