Bejaardes oorval in plaashuis

THABAZIMBI – Twee bejaarde inwoners van ‘n huis op die plaas Hartbeesbult net buite Thabazimbi, is Donderdagoggend in die vroeë oggendure deur twee inbrekers oorval. Frederick Smit (72) en sy eggenote Martha Elizabeth Smit is hardhandig hanteer maar het net geringe beserings opgedoen.
Die huis is een van drie geboue wat saam op die plaas met ‘n sekuriteitsomheining toegespan is. Dit is nog nie bekend hoe die rowers deur die sekuriteitsheining gekom het nie.
Die twee inbrekers het die agterdeur oopgebreek waardeur hulle toegang tot die huis verkry het. Die rowers was met ‘n mes en skroewedraaier gewapen.
Na wat verneem word het die inbraak omstreeks 02:00 plaasgevind terwyl die egpaar geslaap het. Die rowers het op geld aangedring maar nadat hulle die rowers oortuig het dat daar geen geld in die huis is nie het hulle hul bankkaarte met pin kodes aangebied. Een van die rowers het toe die sim-kaart uit die egpaar se selfoon verwyder en stukkend gebreek, mnr Smit ‘n vuishou toegedien, waarna hulle op die vlug geslaan het. Niks word uit die huis vermis nie.
Die polisie is van die voorval in kennis gestel en was gou op die toneel. Die sekuriteitsfirma is ook ontbied en spoorsnyers is ook ontplooi om die verdagtes te probeer opspoor.
‘n Saak van huisroof is by die Hoopdal Polisiestasie geopen. Die verdagtes is steeds op vrye voet.