Ontsnap uit brandende hut met geringe beserings

Al wat oorgebly het van die sinkhuisie waarin Kassie van der Merwe, wat van ‘n ongeskiktheidspensioen afhanklik is, byna met sy lewe geboet het nadat ‘n gasbottel ontplof het toe ‘n brand in die hut ontstaan het.
Al wat oorgebly het van die sinkhuisie waarin Kassie van der Merwe, wat van ‘n ongeskiktheidspensioen afhanklik is, byna met sy lewe geboet het nadat ‘n gasbottel ontplof het toe ‘n brand in die hut ontstaan het.

ROOIBERG – Die Rooiberg gemeenskap het soos een man saamgestaan toe die sinkhut waarin die 46-jarige mnr Kassie van der Merwe, wat afhanklik is van ‘n ongeskiktheidspensioen van die staat, totaal vernietig is in ‘n brand.
Die voorval het Vrydagmiddag 3 Oktober gebeur. ‘n Brand het ontstaan waartydens Kassie brandwonde aan sy voete opgedoen het. Dit blyk dat hy geslaap het toe die brand ontstaan het. Hy kon darem betyds uit die brandende hut kom voordat ‘n 5kg gassilinder ontplof het wat alles in die hut vernietig het. Dit sluit in al sy persoonlike besittings, insluitende sy SASSA kaart wat hy benodig om sy ongeskiktheidspensioen te trek. Dit is steeds duister oor hoe die brand ontstaan het.
Die sink hut staan op ‘n ongelysde gedeelte in die RDP gebied van Rooiberg, reg langs die gemeenskapsentrum, en beskik nie oor lopende water of elektrisiteit nie.
Die voorval is by die Bewaria Nooddienste sentrum aangemeld en die bestuurder, Annelie Steyn het uitgespring om die brand te help blus. Sy het ook die voorval by die Thabazimbi Nooddienste aangemeld wat met noodvoorraad in die vorm van ‘n tent en kombers later op die toneel aangekom het.
Kassie is na die Rooiberg Kliniek geneem waar hy vir sy brandwonde behandel is en later die dag ontslaan is. Die gemeenskapsleier, me Martha Khosa en haar dogter het hulle oor Kassie ontferm en hom terug na sy tuiste vergesel waar die tent reeds opgeslaan is. Hulle is bygestaan deur die plaaslike gesondheidswerkers, gelei deur me Sophie Mmekwa. Daniël van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit het intussen met ‘n bed en komberse opgedaag. Die swart gemeenskap van Rooiberg word hartlik bedank vir hulle bystand en hulp wat hulle verleen het.
Mnr P Nel, van die Gemeenskap Aksie Fonds, wat Kassie oorspronklik na die kliniek geneem het, het ook gesorg vir voorrade soos blikkies kos, mieliemeel, groente, eetgerei en beddegoed saamgebring nadat die tent opgeslaan is.
Die wit gemeenskap het ook ingespring met skenkings van klere skoene, toiletware en handdoeke, asook ‘n matras, tafeltjie en stoele asook ‘n kombuiskassie. Sy Bybel en gesangeboek wat in die brand vernietig is, is ook deur ‘n weldoener vervang.
Al wat nou nog benodig word is veilige beligting en ‘n veilige stoof.
Soos die drama ontvou het, het die deernis, samehorigheid en samewerking asook die vinnige optrede van die hele Rooiberg gemeenskap duidelik ontvou, insluitend die van die Munisipale werkers en die Waterberg Disaster Management Batho Pele.