Frikkies reflekteer op rugbyseisoen

Die o/14A-span en afrigters van Hoërskool Frikkie Meyer geniet ‘n ontbyt geborg deur die Wimpy franchise eienaar, mnr. Annema Denton, voor die laaste wedstryd van die jaar, die Beeld finaal.
Die o/14A-span en afrigters van Hoërskool Frikkie Meyer geniet ‘n ontbyt geborg deur die Wimpy franchise eienaar, mnr. Annema Denton, voor die laaste wedstryd van die jaar, die Beeld finaal.

THABAZIMBI – Aan die einde van die rugbyseisoen kyk ons terug op ‘n jaar wat heelwat hoogtepunte ingehou het. Agt van die spanne is Suidsirkel ligawenners en hul speel in die finaal teen Ben Vorster en Pietersburg.
Drie spanne dring deur na die finaal van die provinsie en veral die wen van die Eerstes teen Ben Vorster bring groot vreugde. Uiteindelik is die o/14A-span wenners van Limpopo provinsie se Groot Skole liga. Drie spanne dring deur na die Beeld uitspeelrondtes, maar twee val vas teen die Valke se ligawenners.
Die o/15A-span verloor teen Transvalia 8 – 15 en die Eerstes buig die knie voor Hugenote met 20 – 25.
Die o/14’s wen die kwarteind teen Hugenote 7 – 3 en speel daarna in die halfeind teen Helpmekaar en klop hulle 19 – 20 in die laaste sekondes met ‘n strafdoel deur William Thulare. Die finaal van die Beeld word deur KHS te Klerksdorp aangebied en hul kom teen hul aartsvyand, Ben Vorster, te staan. Ongelukkig moes hul dié keer, na twee vorige oorwinnings oor Ben Vorster, onsuksesvol die aftog blaas en verloor die wedstryd 0 – 17. Dit laat die span as silwer-medalje wenners in die Beeld kompetisie wat opsig self ‘n puik prestasie is. Twee spanne neem ook deel aan die Sewes toernooi (Bieliefees) te Brits en die spanne wen 9 van 10 wedstryde. Die o/15 sewes span neem ook in Oktober aan die Exco-toernooi te Sundown Ranch deel. As spelers en afrigters is hulle dankbaar vir elke inset en bydrae wat dit vir hul moontlik maak om rugby te bedryf. Dankie aan die borge van truie, ouers wat instaan vir toergelde en oefenkampe, instansies wat spanne borg vir kompetisies en die gee van insentiewe om spanne te motiveer. U bydraes en betrokkenheid by Hoërskool Frikkie Meyer word opreg waardeer; aan die einde van die dag is dit ook tot voordeel van ons kinders. Dankie ook aan die ouergemeenskap wat weekliks kilometers aflê om te ondersteun, aan te moedig en te deel in ons vreugdes en trane – u laat ons Frikkie-harte warm klop! Ten slotte: dank aan Die Kwêvoël vir die blootstelling en beriggewing – werklik ‘n nuusblad uit die gemeenskap vir die gemeenskap!